“Ek het Reeva se lewe geneem. Ek moet daarmee saamleef. Ek kan die bloed ruik. Ek kan die warmte van dit op my hande voel. Om te weet dit is jou skuld. Dit is wat jy gedoen het.

"Ek verstaan die pyn wat mense wat vir haar lief was en haar mis, voel. Ek voel daardie selfde pyn. Ek voel daardie selfde haat vir myself.”

Dit is al drie jaar wat die voormalige Olimpiese en Paralimpiese atleet Oscar Pistorius met dié pyn en haat moet saamleef sedert hy op Valentynsoggend van 2013 vir Reeva Steenkamp doodgeskiet het.

In ’n eksklusiewe onderhoud met Mark Williams-Thomas, ’n gesoute joernalis van Brittanje se ITV-kanaal, het Oscar vir die eerste keer vertel wat hy sê daardie oggend gebeur het. Dié onderhoud is Vrydagaand tydens ’n spesiale uitsending van Carte Blanche uitgesaai.

TYDENS die onderhoud is daar tye wat Oscar so hard huil, hy kan nie praat nie. Net soos toe hy getuig het in die hooggeregshof in Pretoria oor daardie noodlottige oggend.

Die onderhoud begin baie dramaties. Met Oscar wat vertel van daardie oomblik. “Skielik hoor ek ’n geluid by die toilet. En voor ek geweet het, het ek vier skote afgevuur.”

Deurentyd word foto’s en videomateriaal gewys. Foto’s van ’n laggende Oscar en Reeva. Reeva wat vertel van haar en Oscar se eerste afspraak ná ’n sportgeleentheid in November 2012 en watter “sexy seun” en gentleman hy is. Oscar op sy stompies. Oscar wat ’n wedloop wen. Foto’s van die bloedige moordtoneel. Tonele uit die moordverhoor wat die wêreld geruk het.

Vir drie jaar het Oscar by sy storie gebly. Dat daardie oggend toe hy Reeva geskiet het, ’n groot fout was. Hy het gedink sy is ’n inbreker.

Hy het daardie aand nog by die huis gekom; hulle het saamgeëet, bietjie gesels en later in die bed geklim. Sy het nog vir hom gesê hulle moet hul tande gaan borsel. Hy het reeds sy prostese afgehaal so hy het sommer op sy stompies badkamer toe gestap.

Min wetend dat hy ’n paar uur later weer in dié gang sou afstap. Net om dié keer vier skote deur die toiletdeur te skiet.

Oscar het net voordat hy aan die slaap geraak het vir Reeva gevra om die balkondeur toe te maak en die televisie af te skakel.

Hy het net voor 03:00 wakker geword. Die balkondeur en die gordyne was oop “want Reeva het vergeet om dit toe te maak”. Hy het opgestaan en die deur toegemaak. “Toe ek uit die bed klim, was Reeva in die bed langs my”.

“Ek sien net bloed. Dit is bloed oral. Dit is net bloed oral. Daar is so baie bloed,” sê Oscar terwyl die trane oor sy wange loop. Hy snik soos hy huil.

“Ek kyk terug en ek dink, hoe kon dit gebeur het?

Vir ’n oomblik vertel Oscar van verlange dae. Dae toe hy nog net gehardloop het. Beelde van Oscar wat aan die Olimpiese Spele en Paralimpiese Spele deelneem in 2012 flits oor die skerm.

Oscar sê toe hy haar ontmoet het, het sy dadelik sy asem weg geslaan. Sy was ’n ongelooflike mens; borrelend. Iemand wat mense aangetrek het. Sy het net ’n kamer verlig as sy daar instap.

OSCAR begin meer vertel van die aand wat hy vir Reeva doodgeskiet het. Hy het ’n geluid uit die badkamer gehoor; dit was die venster wat toe gaan.

“Ek kon nie sien nie. Die kamer was pikdonker. Ek het gevries. Hierdie vrees het oor my gekom dat daar iemand in die huis is; iemand was besig om in die huis in te breek. My eerste gedagte was om my vuurwapen te gryp. Die persoon was reeds in die huis. Dit was ’n kwessie van sekondes voor hulle in die (slaap)kamer sou wees.

“Ek is bang. Ek is vreesbevange. Ek kry my vuurwapen en ek sê vir Reeva bel die polisie en gaan lê op die vloer.

“Ek moet tussen die inbreker en Reeva kom. Ek sal die persoon moet nader want ek kan nie weghardloop sonder my bene nie. Ek kan nie sit en wag vir die persoon nie, want (wat as) as hy uitkom en begin skiet? Ek moet op ’n plek kom waar ek veilig is, maar ook waar Reeva veilig is.

“As Reeva op die vloer lê en ek is in die gang, is ek ten minste tussen (die inbreker) en haar.”

Oscar begin skree. En hoe meer hy skree hoe banger word hy. Hy hoor die die toiletdeur gaan toe. Iemand is in die huis. Net hier om die draai. Hy is halfpad tussen hulle en Reeva. Daar is nie tyd vir hom om sy bene aan te sit nie. Die mense is reeds in die huis.

Hy gil en skree en vloek vir die mense om uit die huis te kom. Die verskillende scenario’s maal deur Oscar se kop oor alles wat kan verkeerd gaan as die inbreker(s) sy vuurwapen in die hande kry en dit op hulle gebruik.

Oscar staan in die gang, reg voor die badkamer. Hy kan sien die venster is oop en die toiletdeur is toe.

“Al wat ek weet daar is iemand in my huis en skielik hoor ek ’n geluid in die toilet. Ek het aangeneem dit is die toiletdeur wat oopmaak. Voor ek geweet het, het ek vier skote afgevuur. Toe die wapen afgaan, was die eggo in die badkamer so hard, ek kon niks hoor nie. Ek het vir Reeva geskree om die polisie te bel en uit die huis te kom. In ’n stadium besef ek ek kan nie hoor of Reeva (my) antwoord of nie.”

Oscar loop agteruit kamer toe. Hy voel langs die bed, maar voel nie vir Reeva nie. ’n Rilling kom oor hom. Hy voel in die bed. Hy voel op die vloer. Hy voel oor die gordyn.

“Ek is steeds vreesbevange, maar ’n ander vrees kom oor my.”

Hy gaan terug badkamer toe met die vuurwapen steeds in sy hand. Hy voel aan die toiletdeur. Dit is gesluit. Hy besef daar is beslis iemand in die toilet. Die persoon antwoord hom nie.

Hy wonder of dit Reeva is. Hy probeer die deur oopruk, maar kry dit nie reg nie. Oscar hardloop terug kamer toe en sit sy prostese aan. Terug in die badkamer probeer hy die deur skop en met sy skouer oopbeur.

“Die deur wou nie oopmaak nie. Ek het vir Reeva geskree. Ek het geskree ‘asseblief asseblief asseblief laat die nie wees wat ek dink dit is nie’.

“Ek moet in hierdie toilet kom om te kyk of dit Reeva is.”

Oscar gaan kry sy krieketkolf in sy kamer en slaan die deur daarmee oop. Hy probeer die deur oopsluit van binne, maar die sleutel is nie in die deur nie. Hy ruk die deur se planke uit en kyk in die toilet in.

“Toe sien ek Reeva is op die vloer.” Die trane loop. Oscar begin grensloos huil.

“Ek het geweet ek het haar dood gemaak. Ek het geweet sy is dood.” Oscar huil so baie dat hy omtrent nie kan praat nie.

“Daar was net oral bloed. Daar was so baie bloed. Ek weet nie wat om te doen nie. Ek probeer haar optel. Daar is so baie bloed, ek kan nie regop staan nie. Ek het gedink sy het weer begin asem haal. Ek het probeer om haar mond tot mond asemhaling te gee, maar daar is so baie bloed."

Oscar huil so hard soos daardie dag in die hof toe hy getuig het. Sy gesig is nat. Hy staan op en loop uit.

“Ek weet nie wat sy gevoel het en of sy pyn gevoel het nie. Wat ookal ek gedoen het, was verskriklik.”

OSCAR het self baie vrae oor daardie aand. Hoekom het hy nie self die deur toegemaak nie? Hoekom het Reeva nie die deur toegemaak nie? Hoekom het Reeva nie vir hom gesê sy gaan badkamer toe nie? Hoekom het sy niks vir hom geskree terwyl sy in die badkamer was nie?

“Ek kan nie sê hoekom sy nie iets gedoen het nie, want sy het niks verkeerd gedoen nie. Maar dit is moeilik. Dit is moeilik om te weet as een van daardie klein goed gebeur het, sou die situasie anders gewees het. En ek sou haar steeds saam met my gehad het.

“Ek word soms wakker dan voel ek siek. Ek word wakker, dan huil ek. Soms bang. Ek word soms wakker met helder herinneringe aan wat daardie nag gebeur het. Ek word wakker na die ergste ergste nagmerries. Jy droom goeie drome. Jy droom drome van hoe jy langs haar wakker word. En dan word jy wakker en besef 'nee', dit is nie die waarheid nie. Jy droom van goeie goed van haar en jy besef dit is nie waar nie.”

“Ek voel soms ek het nie die reg om te leef nie omdat ek iemand anders se lewe gevat het. Wat moeilik is, is om die aanklag van moord te hanteer.

"Die dag voor die vehoor begin het, het ek vir my regspan gesê ek sal 10 jaar in die tronk sit vir strafbare manslag, maar ek sal nie ’n dag in die tronk sit omdat ek iemand vermoor het nie. Ek wil nie teruggaan tronk toe nie. Ek wil nie my lewe mors deur daar te sit nie. Ek wil glo as Reeva op my af gekyk het, sou sy wou nie wou hê ek moes daardie lewe lei nie.” Ná afloop van die onderhoud het sosiale media gegons. Talle mense het hardop gewonder wat Oscar met die onderhoud probeer bereik het, en of hy regtig die volle waarheid aan Mark vertel het.