. Eddie het blitsvinnig in die visier van die rugbywêreld gekom ná die skokoorwinning van Japan oor die Springbokke. Hy was Japan se formidabele afrigter. Die verligting aan die kant van die Stormers was groot, want hulle het Eddie as afrigter bekom net voor Japan met daardie oorwinning sy waarde, ook op finansiële gebeid, as afrigter die hoogte laat inskiet het.

Maar die vreugdevuur is blitsvinnig geblus. Eddie het skaars voet aan wal gesit in die Kaap, of gerugte doen die ronde dat Engeland sy bloed soek na hul treurige Wêreldbeker-prestasie.

Maar nou is die nuus amptelik: Eddie groet die Stormers nog voordat hy hulle begin afrig het. Engeland het hom ‘n aanbod gemaak, een van daardie wat jy oënskynlik nie kan weier nie.

“Dis jammer om Eddie te verloor nog voor hy die geleentheid gehad het om sy stempel hier af te druk, maar jy kan nie iemand teen sy wil hier hou nie,” het Thelo Wakefield, president van van WP Rugby-unie gesê.

“Verbasend genoeg is ek reeds (hierdie week) deur verskeie bekende afrigters gekontak. Ek sal weer plaaslike en internasionale afrigters oorweeg om die pad vorentoe vir WP Rugby en die Stormers te beplan."

En wat het Eddie vir homself te sê?

“Ek is baie teleurgesteld om die Stormers te verlaat. Ek bly dankbaar teenoor WP Rugby vir die geleentheid en vra elkeen wat deur my onverwagse vertrek geraak is, om verskoning.”

Bronne: Sport24, itv.com