Dis ’n oulike foto wat enige ma se hart sal laat swel van trots, maar daar skuil ook iets glibberigs in Bianca Dickinson se skynbaar volmaakte foto van haar dogter Molly.

’n Tamaai oostelike bruinslang het op die Australiese ma se foto verskyn toe dit sentimeters van klein Molly af verby glip.

“Ek het iets uit die hoek van my oog sien beweeg en gedink dis bas wat van die boom af val, want dit was so winderig . . . Ek kyk toe op en sien hierdie reus van ’n bruinslag verby Molly seil,” deel Bianca op Instagram.

Volgens Reptile Park kan die byt van ’n oostelike bruinslang diarree, duiseligheid, ineenstorting of toevalle, nierversaking, verlamming en ’n hartaanval veroorsaak. As dit nie betyds behandel word nie, kan ’n byt dodelik wees. Die besondere spesie veroorsaak meer mense se dood as enige ander slang in Australië. Gelukkig het die reptiel glad nie in Molly belangstel nie. “Sy het dit gelukkig nie eens raakgesien nie en is piekfyn,” skryf Bianca. “Ek het nog nie herstel nie!”

Sy voeg in ’n latere plasing by: “Dalk sal ek vanaand slaap sonder om beelde van slange of my dogter wat hospitaal toe gehaas word of erger deur my kop te sien maal.”

Bronne: Instagram, Viral Thread, Facebook