’n Onlangse ontdekking kan als wat ons dink ons weet van Leonardo da Vinci se ikoniese skildery verander.

’n Franse wetenskaplike wat die kunswerk al vir meer as ’n dekade bestudeer, sê die enigmatiese portret is eintlik bo-oor ’n ander portret geskilder – een waarvan die onderwerp sywaarts kyk.

“Die bevindings weerlê talle mites en verander ons idee van Leonardo se meesterstuk vir altyd,” het die navorser Pascal Cotte gesê.

Hy het met sy Layer Amplification-metode die skildery sedert 2004 bestudeer. Dit word wyd aaanvaar dat die vrou in die portret Lisa Gherardini, ’n Florentynse syhandelaar se vrou is, maar Pascal glo sy studies het dié teorie verkeerd bewys.

“Toe ek klaar is met die rekonstruksie van Lisa Gherardini het ek voor die skildery gestaan en sy is heeltemal anders as die Mona Lisa van vandag. Dit is nie dieselfde vrou nie.”

Oor sy Layer Amplification-metode sê Pascal: “Ons kan nou presies ontleed wat binne die lae verf aangaan en kan al die lae van die skildery soos ’n ui afskil.”

Ander kunskenners het egter sy bewerings weerlê en Martin Kemp, emeritusprofessor van kunsgekiedenis by die Universiteit van Oxford, sê: “Dis ’n onhoudbare idee dat daar ’n skildery onder die oppervlak is.”

Die Louvre-museum het nie kommentaar op die bewerings gelewer nie omdat hulle “nie deel van die wetenskaplike span was nie”.

Bronne: BBC, The Mirror