Darius Hay (13) het daarvan gedroom om eendag vir die Proteas krieket te speel en op die veld was hy self ’n skerp veldwerker.

[caption id="attachment_148004" align="alignnone" width="600"]xx Darius Hay, ’n kranige krieketspeler, se regterhand se duim, wysvinger en middelvinger is geamputeer. Foto: Verskaf[/caption]

“Hy het vir my gesê: ‘Mamma, ek gaan vir die Proteas speel; ek gaan die volgende Hansie Cronjé wees.’ Nou sal hy moet krieket kyk,” sê ’n hartseer Erika Hay.

“Op die oomblik is hy baie dapper. Maar hy sê dit voel soos ’n droom. Ek dink nie hy besef al heeltemal wat gebeur het nie,” sê Erika oor haar seun wie se lewe Maandag binne ’n oogwink verander het toe ’n swaarkaliberpatroon in sy hand ontplof het.

Darius, ’n leerder aan die Laerskool Odensia in Odendaalsrus in die Vrystaat, is Maandag erg beseer toe hy en ’n maatjie die patroon by die skool bekyk.

“Ek het van die voorval gehoor tien minute voor die onderwysers my kom haal het,” vertel Erika.

“ ’n Vriendin het my gebel en gevra of Darius by die skool is, want ’n kind met dié naam het by die skool seergekry. Sy het gesê sy hoop nie dit is my kind nie. Maar my seun is die enigste Darius in die skool waarvan ek weet.”

Minute ná die oproep het ’n motor met twee onderwysers voor Erika se huis stilgehou.

“Ek het net die foon doodgedruk en vir my klein sussie (in die huis) geskree 'Darius!' Toe ons by die skool kom, was hy reeds in die ambulans. Hy was vol bloed,” sê Erika. Haar stem raak weg soos sy die trane probeer keer.

Volgens Erika het die patroon aan ’n maatjie behoort. “Hy het die patroon in Januarie by sy oupa gekry en vir almal gesê dit is skadeloos. Die maatjie het eers met die patroon teen ’n boom gekap om te wys niks gebeur nie. Hy het daarna vir Darius die patroon gegee en gesê hy kan dit teen ’n ysterpaal kap; niks sal gebeur nie.”

Sy is steeds verslae oor die voorval – sy verstaan nie waarom dit in ’n jong kind se besit was nie. “Ou ammunisie is gevaarlik. Dit is onstabiel en die slagdoppie is sensitief.”

[caption id="attachment_148005" align="alignnone" width="600"]xx Sy ma vertel Darius sal van voor af moet leer skryf met sy linkerhand. Foto: Verskaf[/caption]

Darius was Dinsdag tot in die vroeë oggendure in die teater, maar sal Woensdag weer vir ’n operasie moet gaan. Sy hand gaan na verwagting aan sy lies verbind moet word nadat vel op sy hand oorgeplant word.

“Die senuwee is geheg, al die oop wonde het steke gekry en hy moet môre weer ingaan teater toe vir sy hand.”

Darius se regterhand se duim, wysvinger en middelvinger is geamputeer.

“Hy weet sy vingers is weg. Maar hy sê hy voel dit nog en dit jeuk. “Hy sal moet leer links skryf, dus lê daar nog ’n lang pad voor.”

Sy meen haar seun probeer sterk wees. “En ek ook. Ek moet sterker wees. Hy kan nie sien dat daar trane binne my is nie,” sê ’n bewoë Erika.

“Ek gaan nog deur stadiums wanneer ek voel ek wil net in ’n hoekie gaan sit en huil.”