Sy beboet hom met R100 as hy laat is vir ’n vertoning of repetisie en raas met hom as hy dae aaneen werk sonder ’n blaaskans.

Maar al Jan Blohm se liefdesliedjies gaan oor haar.

Want Zinta van der Merwe is die een wat lig bring in sy lewe, hom herinner om te eet en saans te gaan slaap en wat smiddae saam met hom deur Pretoria se strate gaan stap.

Saam met haar gaan die selferkende gerehabiliteerde alkoholis deesdae draf sodat hy gesonder kan leef. Maar sy verstaan ook Jan het ruimte nodig wanneer sy kop op hol gaan en die demone van depressie by hom kom spook.

Daarom het Jan (31) in Maart vir sy blonde bestuurder en meisie van die afgelope sewe jaar gesê hulle moet na ringe gaan kyk.

“Ek het ’n ring aangepas wat vir my mooi was, en toe ek dit aan my vinger steek, het ek vir Jan gesê dit lyk soos ’n verloofring,” vertel Zinta (28) terwyl sy ’n koppie Milo by ’n Pretoriase restaurant drink.

“En toe sê Jan: ‘Nou maar dan is dit ’n verloofring.’”

Sy lag en kyk met oë vol liefde na die die krulkop-rocksanger.

Dié vertel skamerig: “Maar ek sê toe vir haar: Ek moet jou nog eers vra om te trou. Nou ja, toe sê sy maar ja . . .”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 13 Mei 2010