’n Pa van Welkom is verslae nadat sy 16-jarige seun se lyk langs ’n treinstasie gevind is.

Die laaste keer dat Phillip Volschenk (43) sy seun, ook Phillip, gesien het, was toe dié nege jaar oud was.

“Daar is soveel woede binne my. Daar is soveel dinge van oor die jare wat deur my kop nou gaan,” het Phillip aan Huisgenoot gesê.

Phillip jr. het saam sy ma in Brackenfell, Kaapstad, gewoon. Familielede het hom Maandag as vermis aangemeld.

Nuus van die tienerseun se dood het Dinsdagoggend bekend geword nadat sy lyk langs die spoorlyn van die Stikland-treinstasie gevind is.

Volgens Missing Children SA is Phillip by die treinstasie by Brackenfell-boulevard laas lewend gesien.

Kol. André Traut, polisiewoordvoerder, sê die oorsaak van Phillip se dood kan nog nie bevestig word nie.

Die omstandighede rondom sy dood word nog ondersoek.

Phillip sr., ’n kabinetmaker, sê hy het nie geweet sy seun is vermis of oorlede nie.

“Niemand het my gebel om te sê my seun is dood nie. ’n Veiligheidswag het my gebel en daarvan vertel,” vertel hy emosioneel.

Phillip het hom nou tot Facebook gewend en probeer geld bymekaarkry om vir sy brandstof Kaapstad toe te betaal. Hy wil sy seun se begrafnis by te woon.

Phillip het ook beweer dat sy seun van hom weggehou is terwyl hy geleef het maar “niemand sal my weghou van my seun se begrafnis nie.”