DIS mos nou ’n pragtige prentjie – ’n gesin wat om ’n tafel sit en salig aan kitskos weglê: gebraaide hoender, burgers en tjips en bottels koeldrank om dit mee af te sluk. Net jammer dis so ongesond dat jy letterlik daarvan kan sterf . . .

Kitskos is meesal gelaai met ongesonde vet en sout en is ’n vername oorsaak van vetsug, met al die gesondheidsgevare wat daarmee saamgaan. In Suid-Afrika is meer as 29 persent van mans en 56 persent van vroue oorgewig of vetsugtig en 17 persent van kinders oorgewig, volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

Kitskos is ook ’n belangrike bydraer tot wat medici die tikkende diabetes-tydbom noem – ’n wêreldwye toename in diabeteslyers weens verkeerde eetgewoontes.

Terselfdertyd het die kitskosplekke se inkomste die afgelope jaar net 10 persent gegroei, blyk uit ’n opname van Statistiek Suid-Afrika oor die kos-en-drankbedryf.

“Namate mense ál meer steun op wegneemkos, neem die gemiddelde gewig van die bevolking toe en verhoog die sterfterisiko,” sê Justine Aginsky, ’n dieetkundige van Gauteng.

Kitskos-etes is in die algemeen ongebalanseerd, met die meeste mense wat brood, tjips, pizza, verwerkte vleis, kaas en allerlei gebraaide kosse kies, sê sy. Dit het gewoonlik min vesel en baie sout, wat die risiko op hoë bloeddruk, hartsiektes, suikersiekte, kanker en beroertes verhoog.

Skrik dit ons af van Nando’s en Wimpy? Nie maklik nie. Daarom het ons die gesondste opsies by gewilde kitskoswinkels gaan soek, en ons kenners, die dieetkundiges Justine Aginsky en Lisa Raleigh, afrigter op die TV-program The Biggest Loser, gevra wat hulle daarvan dink.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 15 Julie 2010.

Bespreek vir Skouspel!