In ’n stap wat beskryf word as die “laaste gooi van die dobbelsteen” om agter die kap van die byl te kom oor wat amper ’n dekade gelede met Maddie (soos sy genoem word) gebeur het, het Britse wetstoepassers ’n bykomende R1,3 miljoen (£85 000) bewillig om die ondersoek vir nog net 11 weke voort te sit.

Owerhede hou vol dat hulle alles in hul vermoë probeer doen om haar te vind, maar loop egter onder sterk kritiek deur nadat Daily Mail ’n versoek om toegang tot inligting te kry, ingestuur het. Daarvolgens het die ondersoekspan Portugal, waar Maddie verdwyn het, nog net twee keer vanjaar besoek. 

Owerhede het teruggekap en gesê dat hulle nie in Portugal hoef te wees om die saak te ondersoek nie. 

“Ons is nie veronderstel om te verduidelik hoeveel keer ons in Portugal was nie. As ons in Portugal moet wees, sal ons daar wees,” het ’n polisiebeampte aan The Sun gesê.

Maddie het in Mei 2007 as driejarige vermis geraak terwyl sy in Praia da Luz saam met haar ouers, Kate en Gerry, vakansie gehou het.

Sy het uit haar kamer verdwyn terwyl hulle by ’n restaurant daar naby saam met vriende aandete genuttig het. 

Talle teorieë het al opslae gewek oor wat met Maddie moontlik kon gebeur, maar na ’n dekade is die raaisel nog nie opgelos nie.

Kort voor die 10de herdenking van Maddie se verdwyning het Mark Rowley, ’n metropolitaanse kommissaris, gesê nuwe leidrade word opgevolg, maar niks is bekend gemaak nie.

“Ons het moontlike verduidelikings vir die saak en ons ondersoek dit, maar ons wil nie die saak belemmer deur die inligting bekend te maak nie,” sê Rowley.

Bronne: TheSun.co.uk, The Mirror, Metro.co.uk, Daily Mail