"Ek's bang vir clowns,” sê die lenige swartkop terwyl sy koes-koes verby McDonald’s se plastiekhanswors skarrel op pad na die koffierestaurant in Pretoria. Koppe draai en oë volg haar so ver as wat sy loop.

Haar hare hang sensueel tot by haar middel. Dit lyk asof sy sweef op haar hemelhoë hak-skoene.

Sy’s moeg vir modelwerk, sug Laetitia Bouwer(22). “ ’n Mens moet altyd dieet en jou hare moet altyd goed lyk. Ek wil ook net ’n bietjie McDonald’s eet en ’n bietjie vet word.”

Toe sy laas saam met ons gekuier het, was dit met sterre in haar oë en vlinders in haar maag. Sy het toe pas verloof geraak aan die Afrikaanse sangerRobbie Klay (23) en die twee kon nie ophou soentjies steel nie (Liefde is . . . ’n ring en 50 soene, 30 Augustus 2007).

Sy was 19 en hy 21, en ná ’n kitsromanse het hy haar op ’n bankie in Melkbosstrand gevra om te trou.

Dit was drie jaar gelede. Maar toe raak ’n 15-jarige meisie swanger en Robbie doen ’n belydenis aan Laetitia wat die sterre in haar oë eensklaps laat verskiet het . . .

Vandag is sy ouer en wyser, vertel die mooi donkerkop. En ja, daar is ’n lewe ná Robbie.