Teen hierdie tyd weet baie mense dat Australiërs dinge op hul eie unieke manier aanpak. Maar om ’n kangaroe met ’n stewige regter by te dam wat selfs Mike Tyson se oë sou laat traan, is ’n heel ander storie!

Daar's soveel kinkels wat tot dié episode gelei het waaroor almal nou so gons, dat jy mooi moet kophou om nie die draad te verloor nie.

Die geveg wat die wêreld laat gons het:

Dit het alles begin met ’n beplande jagtog om te help om een van Kailem Barwick, ’n 19-jarige terminaal-siek kankerleier, se laaste wense te vervul.

Al wat Kailem wou doen was om ’n wildevark te vang voor sy gesondheid te veel sou verswak.

’n Groep manne onder leiding van Mathew Amor het op sy eiendom in Condobolin, Nieu-Suid Wallis, in Junie vanjaar bymekaar gekom en vir Kailem op sy beloofde jagtog geneem. En dis waar die groot kangaroe se vreemde toetrede die kollig gehaal het.

Een van die lede van die groep was Greig Tonkins, ’n man wat deur sy vriende as ’n rustige outjie bestempel word. Greig, ’n werknemer van die Taronga Western Plains-dieretuin in Dubbo, het sy honde saamgeneem vir die jagtog.

Die honde, waarvan een se naam Max is, is glo opgelei om kangaroes te vermy en slegs op die reuk van wildevarke te reageer.

Maar toe kom Max sy moses teë! Daar kry ’n reuse-kangaroe hom toe in ’n kopgreep beet – amper soos ’n vuilspel-rugbyspeler met ’n hoogvat wat nie wil laat los nie. Selfs toe Greig naderstorm om Max te probeer help, koes-koes die kangaroe dié kant toe en daardie kant toe, met Max steeds stewig in sy kragtige voorpote vasgevang is.

Toe hy vir Max eindelik vrylaat, staan die kangaroe kiertsregop en konfronterend voor Greig. Dit lyk amper asof die twee mekaar soos twee ervare boksers ligvoet in die kryt opweeg. En dan reageer Greig – met ’n regterhaakhou soos min.

Die kangaroe lyk vir ’n wyle verstom, maar gee nie sommer bes nie. Hy bly staan en dit lyk sowaar asof hy vir Greig ’n liederlike vuil kyk gee voor hy omdraai en wegbons.

Kyk hier na die video wat die afgelope paar dae die wêreld laat gons het:

Kailem se storie:

Kailem, die jong man waarom die hele jagtog gedraai het, het ’n skaars vorm van beenkanker gehad. Hy was ’n vrolike man en gek daaroor om te jag. Maar hy was nog baie liewer vir sy pragtige meisie, Brandi-Lee Wadwell.

Sy ouma, Helen Rushton, het gesê Kailam het oor ongelooflike sterkte beskik. En hy het vir solank as wat hy kon ná daardie jagtog aan die lewe bly vasklou.

Op 1 Desember verloor hy die stryd, maar nie voordat hy met die liefde van sy lewe, Brandi-Lee, tydens ’n emosionele seremonie op 27 November getrou het nie.

Bronne: news.com.au, dailyliberal.com, au.news.yahoo.com