HY IS nog dieselfde Daantjie, die pakkie dinamiet wat ons verstom het met sy ongelooflike musiekkennis.

TV-kykers het landwyd regop gesit toe hy die nuwe record in die gewilde vasvraprogram Noot vir Noot opgestel het en met groot geld huis toe is.

Maar nou, meer as vyf jaar later, met ’n nuwe Noot vir Noot-reeks op televisie en splinternuwe musiekfoendi’s op die horison, lyk die toekoms onseker vir Daantjie Badenhorst.

Die 42-jarige Pretorianer het pas gehoor sy kontrak as assistent in ’n musiekwinkel is nie verleng nie. En dit is nou al die derde nuwe werk wat daarmee heen is sedert die sjampanjedae toe hy met R77 200 in sy sak ’n nuwe verdiensterekord op Noot vir Noot opgestel het.

Hy krap sy kop en sê driftig: “Baie mense sit met die wanopvatting dat die lewe maklik is as jy bekend is. Hulle dink jy het baie geld en dinge gebeur net. Maar dinge gebeur nie net nie – ek is ’n bewys daarvan.”

Die nuus dat hy sy werk kwyt is, het vir Yolanda (41), klein Dirk (6) en Suzanne (3) onkant gevang.

“Dit was vir my ’n enorme skok, ek was glad nie hierop voorbereid nie,” sê Daantjie. Yolanda kon eers nie ’n woord uitkry nie en Dirk het in trane uitgebars.

Daantjie moes bontstaan om vir Dirk te oortuig dit beteken nie hy gaan al sy speelgoed verloor nie. Toe Yolanda haar stem terugkry, kon sy net sê: “Dit is nie nou die tyd om te huil nie, nou is die tyd om te bid”.

Sy glo vas dinge sal beter gaan. “Dit is die tipe mens wat ek is. Ek sal eerder aan my geloof vasklou as aan wêreldse goed.”

Vir Daantjie was die vraag wat doen hy nou?

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 15 Julie 2010.