Om 14h47 het die hertog en hertogin van Cambridge op die balkon van Buckingham-paleis verskyn vir die langverwagte soen – maar as jy vir ‘n oomblik weggekyk het, sou jy dit gemis het.

Ná ‘n rukkie se gewuif vir die honderdduisende juigende toeskouers, het William oorgeleun en vir Kate ‘n vinnige piksoentjie gegee.

Hy het skaars weggekyk van die hemelruim waar die Britse lugmag ‘n verbyvlug sou doen met ‘n WWII Lancaster bomwerper, antieke Hurricane en Spitfire-vegvliegtuie en Tornado en Typhoon-stralers. Dit het amper gelyk asof dié vlieënier meer geïnteresseerd was in die lugruim as in die pragtige bruid langs hom.

“Waaaat? Was dit die soen?” het Lee-Ann Liebenberg oomblikke later ge-tweet.

Maar daar was darem ‘n troosprys – nog ‘n soen, en dié keer ietwat langer.

Die paartjie sal amptelik die hertog en hertogin van Cambridge heet, maar wat is hulle regte, getroude van?

Wel, prins William se naam in die trou-register is William Mountbatten-Windsor, en Kate sal nou ook dié van dra.