Die DA-leier Mmusi Maimane is vir onbekende redes van ’n lughawe in Zambië teruggestuur Suid-Afrika toe hy daar land, het sy woordvoerder, Graham Charters, Donderdagaand gesê.

Charters het gesê toe Maimane omstreeks 18:30 Donderdag op die Lusaka-lughawe land, het twee polisie- en immigrasiebeamptes hom reeds op die landingstrook ingewag.

Charters sê daar was ’n konfrontasie tussen Maimane en die owerhede terwyl hy wou weet hoekom hy nie in die land toegelaat word nie.

“Hy is daarna beveel om die volgende vlug terug na Suid-Afrika te neem.”

Charters sê hulle het geen rede vir hul optrede gegee en hoekom hulle “’n staatsamptenaar van ’n mede-Afrika-staat verbied nie”.

“In 'n tyd waar Afrika moet beweeg na ’n volwasse demokrasie en die handhawing van die waardes van die gereg, kan ons sien dat baie van ons broers en susters in Afrika nog onderworpe is aan die regime van grootmanpolitiek,” het Charters gesê. Die voorval het op Afrika-dag gebeur.

“Hy het nie seergekry nie, maar is beslis ontnugter. Daar was ’n gestoei om sy foon te kry, maar hy is fisiek ongedeerd.”

Charters het gesê Maimane is terug na Suid-Afrika gedeporteer en het hier geland.

“Ons vra die Suid-Afrikaanse regering om onmiddellike aksie te neem teen sulke apartheids-tipe optrede deur die Zambiese regering,” het hy gesê.

Bron: News24