Cressida Bonas is tot die koninklike geledere verwelkom.

Prins Harry se meisie was verlede naweek saam met hom by Sandringham, die koningin se landgoed in Norfolk in die ooste van Engeland. Hoewel koningin Elizabeth nie daar was nie, word hierdie besoek gesien as ’n belangrike simbool van aanvaarding deur die Britse koninklike familie.

’n Bron het aan The Sun gesê: “’n Naweek by Sandringham is byna ’n statusverandering vir enige toekomstige koninklike bruid.

“Harry het ’n baie veeleisende pos in die weermag, en dis die ideale plek vir hom om te ontspan saam met mense wat hy by hom wil hê.

“Cressida het die koninklike stempel van goedkeuring gekry. Daar is geen twyfel aan nie. Harry is doodverlief en behandel haar soos ’n prinses.”

Cressida se insluiting by die doop van prins George, Harry se broerskind, verlede week wys ook Harry (29) is gereed om hul verhouding verder te voer. Hy en Cressida het in Mei verlede jaar ontmoet.

“Die tyd was ryp om dinge volgens protokol te laat vorder,” het die bron gesê.

“Met die inagneming van Harry se ouderdom, asook hierdie veelseggende stap, is die gevoel hierdie verhouding is baie spesiaal. Die publiek sal Harry en Cressie binnekort meer dikwels saam sien, hoewel dit in ’n beheerde omgewing sal wees.”