Prins Harry se meisie, Cressida Bonas, is genooi na prins George se doopplegtigheid.

Sy sal Woensdag by die koninklike familie aansluit wanneer die drie maande oue prins gedoop word. Die pragtige blondine, wat al sowat 18 maande lank met die rooikop-prins uitgaan, is glo senuagtig oor die vooruitsig om die beroemdste familie ter wêreld te ontmoet. “Sy is baie, baie senuagtig, maar prins Harry is baie beskermend teenoor haar en hy wil hê sy moet daar wees,” het ’n bron aan die koerant Mail on Sunday gesê.

Die paartjie – wat deur Harry se niggie prinses Eugenie ontmoet het – het in Julie die nuus gehaal toe hulle saamgesien is by die première van The Dark Knight Rises en later alte liefies was toe hulle saam met vriende by die klub Le Salon in Mayfair, Londen, gekuier het.

George, die derde troonopvolger, gaan ’n intieme doopplegtigheid hê en volgens berigte is belangrike lede van die koninklike familie nie genooi nie, onder wie prinsesse Anne en Sophie (William se tannies), die gravin van Wessex en William se ooms prinse Andrew en Edward.

Op ’n vraag oor of Sophie en Anne, wat albei besig is met oorsese verpligtinge, die plegtigheid sou bywoon, het ’n paleisbron gesê: “Al wat ek kan sê, is dat dit ’n intieme geleentheid gaan wees.”