Jacobi Anstruther-Gough-Calthorpe,

Cressida Bonas se broer sê dis vir haar “uitdagend” om met Brittanje se prins Harry uit te gaan.

Jacobi Anstruther-Gough-Calthorpe is nie seker of sy 24-jarige halfsuster dit sal kan hanteer om met ’n lid van die koningsgesin te trou nie. Sy is ’n “sensitiewe” mens en hou nie van die gedurige media-aandag nie.

Hy het aan die London Evening Standard gesê: “Cressida is glad nie ’n tawwe meisie nie. Sy is ’n baie sensitiewe, liewe meisie. Dis uitdagend, jy kan dit nie ontken nie. Dis vir niemand maklik wat met ’n koninklike uitgaan of trou nie.

“In ’n seker opsig is dit anders as enige ander soort roem. Dis ’n inbraak op privaatheid, wat baie moeilik is. Daar is mense wat dit graag wil hê, maar wanneer jy jou lewe lank daarvan skuil, dink ek word dit baie uitputtend. Ek dink dis baie moeilik.”

Cressida en die 29-jarige prins gaan al meer as anderhalf jaar uit en hul verhouding raak ál ernstiger. Harry neem haar ál meer uit na openbare plekke. Die blondine het glo ook haar dansloopbaan prysgegee vir ’n meer “vanpaste” werk as ’n persoonlike assistent in Londen se West End.

Haar familie, wat die sosiale vlinder se halfsusters, Isabella, Georgiana en Pandora, insluit, begin senuagtig voel oor die moontlikheid dat Harry skoonfamilie kan word. Dis veral nadat die Middletons so in die kollig was nadat Catherine in April 2011 met prins William getroud is.

Jacobi het bygevoeg: “Dit pla my, maar soms moet jy net Gods water oor Gods akker laat loop.”