Die paartjie het hul romanse vandeesweek beëindig ná twee jaar saam en vriende sê die 25-jarige erfgenaam wou uit die “ernstige” verhouding kom omdat sy moeg was van vreemdelinge wat foto’s van haar neem, en sy het geweet die aandag sou vererger as sy met die prins sou trou.

“Cressie wou geensins beroemd wees nie,” het ’n bron aan The Sun gesê. “Haar verhouding met Harry was baie ernstig, maar sy het keelvol geraak van vreemdelinge wat foto’s van haar neem. Sy het begin dink aan hoe haar lewe as ’n prinses sou wees – en toe maak sy spore.”

Die bron glo die paartjie sal versoen raak sodra Cressida die tyd gevat het om aan hul toekoms te dink. “Harry en Cressie is nog lief vir mekaar. Net ’n dapper man sal wed dat die twee nie weer bymekaar sal uitkom nie,” het die bron gesê.

“Cressie is net 25 en die afgelope twee jaar het haar oorweldig. Sy het tyd uit die kollig nodig om na te dink oor wat sy wil hê. Harry het haar daardie tyd gegee omdat hy haar liefhet. Die idee van prinses wees maak Cressie doodbang omdat dit ’n heel ander wêreld vir haar is.”