Mike (46) vertolk die rol van Burt Hummel in dié reeks oor ’n hoërskoolklub. Hy het Saterdag aan die Television Critics Association gesê Cory was ’n gewilde kollega, ’n talentvolle akteur en ’n gawe ou. Hy het bygevoeg Cory, wat die rol van die voetbalspeler Finn Hudson vertolk het, was op die stel net soos sy karakter.

Cory (31) is op 13 Julie dood aangetref in ’n hotelkamer in Vancouver. ’n Nadoodse ondersoek het getoon hy is dood weens ’n oordosis heroïen en alkohol.

Mike het ook verklap die moeilikste toneel wat hy nog moes doen, was teenoor Cory, sy stiefseun in die storie. “Ek moes hom uit die huis smyt omdat hy probleme veroorsaak het. Terwyl ons daardie toneel oor en oor geskiet het, het die diepte van emosie wat hy kon uitbeeld my getref.”

Die vyfde seisoen van Glee begin op 26 September, ’n week later as die oorpronklike datum. ’n Episode ter ere van Cory word beplan.

Mike speel nie net op Glee ’n pa nie. Hy is ook die pa in die NBC-komedie Welcome to The Family, wat in Oktober uitgereik word. Dit handel oor die kultuurbotsing tussen twee gesinne van verskillende rasse wat oor die weg moet kom nadat hul tienerkinders ná ’n onverwagte swangerskap verloof raak.

Al skiet Mike-hulle “vyf dae per week aan een episode” van Welcome to The Family, het die akteur gesê hy sal “vroeg soggens, laat saans, Saterdag, Sondag werk . . . enigiets doen, solank ek op die huldeblykprogram kan wees vir Cory en sy karakter. Ek is vir seker van plan om daar te wees.”