Die Glee-hartebreker is Saterdag (13 Julie 2013) dood aangetref in sy hotelkamer in Vancouver, Kanada. Voor sy skielike sterfte het hy glo reëlings getref om by sy medester se huis in Los Angeles in te trek, al het die twee, wat langer as ’n jaar uitgegaan het, nog nie oor trou gepraat nie.

’n Bron het aan Us Weekly gesê: “Lea en Cory het beplan om saam in te trek nadat hy van Vancouver af teruggekom het.

"(Lea en Cory) het nog nie oor verlowing of trou gepraat nie, maar dit het in daardie rigting beweeg.

“Die eerste stap was dat Cory heeltemal (na Michele se huis in Los Angeles) sou trek. Hy was klaar gedurig daar.”

Cory en Lea, wat “ongelooflik verslae” is oor haar kêrel se dood, was glo net voor sy sterfte meer verlief as ooit en het ’n gelukkige toekoms saam beplan.

Die bron het bygevoeg: “Hulle was 100 persent gelukkig en saam en verlief in die tyd van sy dood.

“Hulle het nooit uitgemaak nie.”

’n Lykskouing is gister (15 Julie 2007) uitgevoer om vas te stel wat Cory se dood veroorsaak het, maar die polisie vermoed nie ’n misdaad nie.

Volgens E! sal die uitslae vinniger bekendgemaak word “weens intense openbare belangstelling”.

Cory, wat Finn Hudson in die musiekdramaprogram Glee gespeel het, het hom in Maart vrywillig in ’n rehabilitasiesentrum laat opneem vir sy dwelmverslawing en is in April ontslaan.

Maureen Webb, Cory se waarnemende mentor, het vertel die akteur het “baie goed” en “baie gesond” gelyk enkele dae voor sy dood.