Personeel van die hotel Fairmont Pacific Rim in Vancouver, Kanada, het in die Glee-ster (31) se kamer op sy lyk afgekom nadat hy nie Saterdag 13 Julie by die hotel uitgeteken het nie. Die uitslae van die lykskouing het getoon hy is aan “gemengde dwelmvergiftiging” dood.

Die lykskouingsdiens van Brits-Columbia beweer die toksikologie-ontleding toon die akteur, wat in April uit ’n rehabilitasiesentrum ontslaan is nadat hy ’n maand behandel is, is aan “gemengde dwelmvergiftiging dood wat heroïen en drank behels”.

Die Kanadese ster het op 19 die eerste keer vir rehabilitasie gegaan en was baie openlik oor sy stryd teen verslawing.

Volgens die skinderwebtuiste TMZ.com sal die finale oorsaak van sy dood eers oor ’n paar weke bekend wees.

Die polisie weier om bekend te maak of dwelmtoerusting in sy kamer gekry is, maar soek niemand anders in verband met sy dood nie.

Voorheen is beweer Cory het het baie tyd daaraan bestee om in Los Angeles nugter te bly, maar wanneer hy na Vancouver teruggekeer het, was “drank en dwelms altyd betrokke” en het sy geesdrif getaan om nugter te bly.

Cory se meisie en medester, Lea Michele (26), het hom in sy stryd ondersteun en is glo “ongelooflik verslae” oor sy dood.