Cory Monteith het verskeie byeenkomste van Alkoholiste Anoniem (AA) kort voor sy dood bygewoon.

Die oorlede Glee-ster (31) het hom Maart vrywillig vir ’n maand in ’n rehabilitasiesentrum laat opneem vir behandeling vir sy dwelmverslawing. Hy het op 6 Julie by die Fairmont Pacific Rim-hotel in Vancouver, Kanada, ingeteken en hulp gesoek om nugter te bly kort voor sy dood op Saterdag 13 Julie.

’n Bron na aan die akteur het aan die skinderwebtuiste RadarOnline.com gesê: “Cory het saam met van my en sy vriende AA-vergaderings bygewoon toe hy in Vancouver aankom. Hulle het al in die verlede AA-vergaderings saam bygewoon.

“Vancouver is ’n goeie plek om jou geanker te hou wanneer jy in die kollig is en nugter wil bly.

“Standvastigheid is die sleutel tot nugterheid en dis wat Vancouver Cory kon bied. Dit is ontspanne en hy het daarna verwys as sy tuiste. Hy het vriende daar gehad wat hom baie lank geken het.

“Cory het ook kinders uit die dwelmprobleme help bly wat so algemeen in Downtown Eastside is.”

Die bron hou vol Cory het nie gedrink nie al was hy in die ure voor sy dood saam met vriende by die Portside-kroeg.

Intussen skarrel die vervaardigers van Glee om die pad vorentoe uit te pluis ná die ster se skielike dood.

Hulle sou vroeg volgende maand aan die nuwe seisoen begin skiet en die base het vergaderings gereël om storielyne te bespreek sonder Cory se karakter, Finn Hudson, volgens Foxnews.com.

Die Kanadese akteur se meisie en medester, Lea Michele (26), is glo “absoluut ontroosbaar”.