HULLE was Ons Lieflinge. Onskeibaar. Of so het almal gedink . . .

Toe kom die Slag van Bothaville. En vandag, hier waar ons met ’n koelkop Corlea Botha sit en gesels, is dit glashelder-duidelik: Dis die einde van ’n alte kortstondige era. Corlea Botha en Rudi Claase sal heel moontlik nooit weer saam op ’n verhoog in mekaar se oë kyk en ’n gehoor skoon in vervoering sing nie.

Corlea, verbasend doelgerig op net 23, kyk nou net vorentoe. Na ’n sololoopbaan waaroor sy baie positief voel.

Dit pla haar dat sommige mense sê sy sal dit nooit sonder Rudi maak nie, sê sy reguit. ‘‘Weet jy hoeveel mense het net die afgelope week gebel om my as solokunstenaar te bespreek?’’

En dalk kan sy dan eendag as solokunstenaar op Bothaville gaan sing om jammer te sê oor daardie konsert nou die dag toe net een van die twee Lieflinge op die verhoog daar verskyn het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 3 Maart 2011