Daar gaan ‘n hele paar verrassings wees – en ‘n klomp treffers uit toentertyd – wanneer Corlea Botha by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn op die verhoog klim.

“My ma-hulle het my grootgemaak om nooit te vergeet waar my wortels lê nie en net soos ek en Rudi (Claase, haar voormalige sangmaat) met die Lieflinge hulde gebring het aan die mense met wie se musiek ons grootgeword het, gaan dit nog steeds deel wees van my program,” belowe Corlea wat in 1999 vir die eerste keer by die fees opgetree het.

“Die goeie musiek van toentertyd is nog steeds ‘n groot liefde vir my en dit sal deel bly van die musiek  wat ek sing. Maar ek gaan ook vir die mense ‘n hele paar fasette van my stem wys wat hulle nog nie ken nie.”

Volgens haar is dit glad nie vir haar vreemd om nou skielik alleen op die verhoog te staan nie. Sy het immers byna twintig jaar voor sy en Rudi die Lieflinge begin het, solo opgetree. “Ek mis tog die pret en praatjies. Saam met Rudi was dit soos ‘n partytjie op die verhoog. Maar ek plaas baie druk op myself om die gehoor nog net soveel te vermaak,” vertel sy.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, kuier sy graag saam met die ander kunstenaars. “Ons gesels oor ons frustrasies met die bedryf, hoogtepunte van die jaar en toekomsplanne.” En as daar ‘n kans is, wil sy beslis Amanda Strydom se vertoning Ek sal Staan gaan kyk.

Vir die volledige Huisgenoot Musiekplaas-program, besoek: http://kknk.huisgenoot.com/