Hy ontken hy die ster se dood veroorsaak, al is hy aangekla van onwillekeurige manslag weens die sanger se dood in 2009.

Conrad Murray ontken hy het Michael Jackson doodgemaak, en sê hulle was soos “familie”.

Die onteerde, voormalige dokter sê hy en die oorlede ster was soos “broers”. Hy was Michael se privaat dokter en is aangekla van onwillekeurige manslag ná die sanger se dood in 2009.

Hy het aan die Mail on Sunday gesê Michael het sy hand vasgehou en gesê: “Daar is nou net vier mense in my familie. Paris, Prince, Blanket en jy, dr. Conrad.”

Conrad vertel: “Dit was een van die gelukkigste dae van my lewe. Die man wat so eensaam was, wat my so baie lang nagte van sy pyn en ellende vertel het, het eindelik gevoel hy kon iemand anders vertrou, buiten sy kinders.

“Ons was familie. Ons het mekaar soos broers liefgehad.”

Hy ontken hy het Michael doodgemaak. Volgens hom het die sanger self ’n oordosis Propofol geneem omdat hy aan slapeloosheid gely het. Conrad sê dit was waarskynlik weens onttrekking van Demoral, wat ’n ander dokter hom glo gegee het.

Hy het gesê: “Ek het Michael nooit iets gegee wat hom kon doodmaak nie. Ek het hom liefgehad. Ek is nou nog lief vir hom. Ek sal altyd . . . daardie aand kon hy net nie slaap nie.

“Ek het vir hom medisyne voorgeskryf om te help, insluitende Valium en Lorazepam, maar hy het gesmeek, gepleit . . . ek het gesê: Dis nie normaal nie. Wat ek jou gegee het, sal ’n olifant laat slaap.

“In die ander kamer (Michael se privaat kamer) het die polisie ’n oop bottel Lorazepam gekry. Hulle het tablette in sy maag gekry. Ek het dit nie vir hom gegee nie. Michael het ekstra tablette geneem. Hy het hom ook self ingespuit.”