• Die 21-jarige Britse hartebreker het sy deurbraak met video’s wat hy op YouTube gelaai het. “Ek het die eerste keer myself opgeneem waar ek iemand anders se liedjie sing met twee SingStar-mikrofone van PlayStation 2 wat met kleeflint vasgeplak en toe aan my bedstyl vasgeplak is vir ’n mikrofoonstaander,” sê hy. “By die huis het ek altyd my huiswerk eenkant toe geskuif en aan musiek gewerk. My pa het letterlik teen die plafon gekap en geskree: ‘Bly stil en doen jou huiswerk!’”
  • Die sanger Ne-Yo het sy video’s ontdek toe Conor nog op skool was. “Ek het ’n e-pos gekry van iemand wat gesê het hy is Ne-Yo se bestuurder en gedink: ‘Ek glo dit nie . . . . ’ Toe begin hulle my bel en sê: ‘Ons gaan jou Amerika toe laat kom – Ne-Yo wil jou ontmoet.’ Maar ek wou nie al die pad Amerika toe gaan en dan uitvind my vriende het vir my ’n poets gebak nie! Ek het bewyse besoek. En daar sit ek toe ’n paar dae later op Skype met Ne-Yo en praat oor musiek en hy sê vir my hy wil vir my ’n platekontrak aanbied.”
  • Conor se raad as jy op die internet wil naam maak, is eenvoudig. “Daar is baie mense wat video’s waar hulle sing op YouTube laai en jy moet iets anders doen om mense se aandag te trek. Maak seker jy lyk soos ’n kunstenaar uit eie reg al sing jy ook iemand anders se liedjie.”
  • Hy kry nie grootkop oor roem nie. “My beste vriende hou my plat op die aarde. Hulle sien my nog as Conor die idioot, nie Conor die sanger nie.”
  • Waarvoor sou hy wens as hy vir een ding kon wens? “Ek sou onsigbaar wou wees sodat ek vir my bestuurders kon wegkruip as hulle vir my sê ek moet my huis skoonmaak.”
  • Twee van sy byname is Con Con of Coco Pop. “Ek het ’n moesie in die vorm van ’n Coco Pop onder my oog.”

BRONNE: GLAMOUR, GUARDIAN.CO.UK, ILIKEMUSIC.COM, THELATEST.CO.UK, BBC