Diana Swart (45)

Haar gehuurde vyfslaapkamerhuis was een van dié wat onder petrolbomme deurgeloop het. Sy het op 25 April vanjaar haar huis, al haar besittings en van haar troeteldiere verloor. Soos Looi, haar geliefde hond wat sy 14 jaar gehad het.

“Ek huil steeds wanneer ek terugdink aan die dag dat ek alles verloor het,” het sy aan News24 vertel.

Ek huil wanneer ek alleen is. Ek kan nie voor my seuns huil nie. Alles wat ek nou het, is aan my geleen.

“Ek wil weer op my eie woon. Ek hoop God help my om weer ’n plek van my eie te kry. Ek dink nie dit was inwoners van Coligny wat my huis afgebrand het nie,” vertel Diana, wat reeds 35 jaar op die dorp woon.

Vandag woon Diana saam met haar lewensmaat in ’n klein agterkamer.

“Ek huil wanneer ek alleen is. Ek kan nie voor my seuns huil nie. Alles wat ek nou het, is aan my geleen.” Sy skat die verlies wat sy gely het, beloop R800 000.

Vandag woon Diana saam met haar lewensmaat in ’n klein agterkamer waar een van haar seuns (26) ’n huis huur. Haar 20-jarige seun woon saam met sy broer in die hoofhuis.

Byna twee maande later kon sy haar eers sover kry om saam met haar seun na binnelandse sake te gaan om vir ’n nuwe identeitsdokument aansoek te doen.

Andries Meintjies

Andries se winkeltjie het weer sy deure oopgemaak nadat dit ná die protesaksie twee weke gesluit was.

Ek is nie jonk nie en kan nie weer van voor af begin nie.

“My hart is in stukke,” het hy gesê.

“Ek is nie jonk nie en kan nie weer van voor af begin nie. Hierdie besigheid is al wat ek op die oomblik het. Ons het voorheen protesoptogte gehad, maar niks vergelyk met dié nie. Ons is nou baie bekommerd.”

Hy vertel hy het ongeveer R50 000 verloor terwyl sy winkel gesluit was, maar probeer sy besigheid weer opbou.

Rafikul Islam

Hy is die eienaar van ’n winkel wat elektriese toebehore verkoop. Rafikul moes van sy winkel vlug en in ’n moskee gaan woon om van die "oorlogsone" (soos hy dit beskryf) te ontsnap. 

Ons vertrou mekaar nie meer nie.

“In daardie stadium was dit (die moskee) die veiligste plek,” sê Rafikul, wat die afgelope drie jaar op die dorp woon.

“Ons weet nie of ons voorraad moet aankoop nie, en besigheid is maar traag. Ons vertrou mekaar nie meer nie. Almal is bang.”

Agtergrond

Die premier van Noordwes, Supra Mahumapelo, het in April in ’n nuusverklaring gesê twee mense is in hegtenis geneem ná die dood van ’n 16-jarige seun van Coligny. Sy dood het glo aanleiding gegee tot die oproer.

“Sedert die kind se dood is die gemeenskap ontsteld omdat hulle voel die voorval was rasgedrewe.”

Hy is glo betrap toe hy sonneblomme steel.

Pieter Doorewaard (26) en Philip Schutte (34) beweer Matlhomola Moshoeu (16) het van hul bakkie afgespring terwyl hulle op pad was om hom na die plaaslike polisiekantoor te neem. Die seun se nek was gebreek. Hy is glo betrap toe hy sonneblomme steel.

’n Ooggetuie het egter beweer die tiener is van die bewegende bakkie afgestamp.

Die twee beskuldigdes is in Mei op borgtog vrygelaat. Die saak is tot 7 Augustus uitgestel.

Bron: news24.com