Clint Eastwood se vervreemde vrou het ’n egskeiding aangevra.

Dina Eastwood (48) het Maandag egskeidingsdokumente by die Monterey County-hooggeregshof in Kalifornië gedien. Sy het onlangs erken sy was verpletter toe sy hoor die Gran Torino-regisseur gaan uit met met haar nuwe kêrel se eks.

Die oudjoernalis wil toesig oor hul dogter Morgan (16) hê, maar sal wetlike toesig met Clint (83) deel. Volgens die Monterey County Herald eis sy ook onderhoud van Clint, ’n Oscar-wenner.

Die twee gaan hul eiendom volgens hul huweliksvoorwaardekontrak verdeel.

Dina het vroeër op Twitter gesê sy en Clint is goeie vriende en het hom ’n wonderlike mens genoem. Tog het sy verlede week vertel sy was hartseer toe sy foto’s sien van Clint en Erica Tomlinson-Fisher, haar nuwe kêrel en ou vriend, Scott Fisher, se eks. Scott is ’n basketbal-afrigter aan Die universiteit van Hawaii.

Sy het ook gesê: “Ek sien uit na ’n nuwe begin.”

Clint het glo verlief geraak op Erica (42) toe sy en Scott verlede jaar ná 33 jaar skei en sy Clint laat weet het sy dink Scott en Dina het ’n verhouding.

’n Bron het gesê: “Nadat Scott en Erica geskei is, was Erica seker Scott en Dina is verlief. Erica het Clint se kantoor verlede Februarie gebel om daaroor te gesels. Hy het toe op haar verlief geraak.”