Clint Eastwood se vervreemde vrou dink nog altyd hy is “wonderlik”.

Dina Eastwood, wat onlangs onthul het dat sy en die legendariese akteur en regisseur ná ’n huwelik van 17 jaar van mekaar verwyderd is, het hom op Twitter verdedig en sê hulle is nog naby aan mekaar.

Die 48-jarige, gewese TV-nuusverslaggewer het geskryf: “Ek hou nie daarvan om slegte goed oor Clint te lees nie. Hy is ’n wonderlike, goedgeaarde, briljante mens. Al gebeur wat ook al, ek kan daarvan getuig.”

’n Ingeligde het onlangs verklap die twee woon al van Junie 2012 nie meer saam nie, maar hulle is op goeie voet uitmekaar en nog altyd na aan mekaar is.

Die bron het bygevoeg: “Clint is al lankal nie meer lief vir Dina nie.”

Die akteur en regisseur is in 1996 met Dina getroud en hulle het ’n dogter, Morgan (16). Daar is vroeër vanjaar berig dat sy haarself by ’n rehabilitasiekliniek aangemeld het om hul beweerde huweliksprobleme te verwerk.

Daar is voorheen al gesê dat hul huwelik op die rotse is, en dat die ster van Mrs. Eastwood and Company blykbaar weens hul probleme aan depressie gely het.

Die 82-jarige silwerdoekveteraan het sewe ander kinders uit vorige verhoudings, onder wie twee dogters, Alison en Kyle, by sy eerste vrou, Maggie Johnson, van wie hy in 1984 geskei is.