Beamptes het verlede Augustus ’n klopjag op Cliff (74) se huis in Berkshire wes van Londen uitgevoer terwyl die sanger met vakansie was. Dit was oor bewerings wat tot in die 80’s terugstrek en ’n minderjarige seun behels.

Cliff is later ondervra, maar nie in hegtenis geneem of van ’n misdaad aangekla nie. Hy het Woensdag gesê al die bewerings is “absurd en onwaar”.

David Crompton, hoof van die Suid-Yorkshire-polisie, sê sy mag se ondersoek het nou uitgebrei.

“Dit is ’n ondersoek wat beduidend uitgebrei het sedert dit begin is,” skryf hy in ’n brief aan die voorsitter van die parlement se komitee vir binnelandse sake. Die brief is twee weke gelede geskryf, maar eers Woensdag openbaar gemaak.

“Sir Cliff Richard se prokureurs is bewus daarvan dat daar meer as een bewering is,” lui die brief.

Richard het 14 nommereen-enkelspelers in Brittanje gehad en is die enigste sanger wat in vyf opeenvolgende dekades – van die 50’s tot die 90’s – boaan die Britse trefferlys vir enkelspelers was.

“Ek het geen idee waar die absurde en onwaar bewerings vandaan kom nie,” sê Cliff in ’n verklaring. “Ek het nog nooit in my lewe enigiemand aangerand nie en ek bly vol vertroue dat die waarheid sal seëvier.”

Die BBC het die klopjag op sy huis verlede jaar verfilm nadat die polisie die uitsaaier vooraf ingelig het. Wetgewers beskryf die samewerking as “ongepas” en sê die sanger se reputasie is “onherstelbare skade” berokken.

Bronne: BBC, The Guardian