Die onderhoud word in twee aflewerings uitgesaai.

Michelle Knight het in ’n opgeneemde onderhoud op die Dr. Phil Show haar hart teenoor Amerika se bekende TV-sielkundige oopgemaak.

“As jy na haar luister terwyl sy die haglike omstandighede in die huis beskryf en hoe sy behandel is, wonder ’n mens hoe enigiemand ’n dag sou oorleef; wat nog van ’n dekade.

“In die 12 jaar dat ek die Dr. Phil Show aanbied, het niemand nog my lewe so verander soos Michelle en haar oorlewingsverhaal nie,” het dr. Phil vertel aan die dagblad The Plain Dealer van Cleveland, Ohio.

Volgens die programvervaardigers het Michelle die aaklige toestande in die huis beskryf en ook oor die liggaamlike, sielkundige en seksuele mishandeling gepraat. Die webtuiste www.insidetv.ew.com berig die vertellings sluit in hoe sy “vasgebind is soos ’n vis” is en hoe sy weke vasgeketting en in ’n kelder in die huis gemartel is.

Michelle, Amanda Berry en Gina DeJesus het op 6 Mei ontsnap toe Amanda ’n deur uitgestoot en om hulp geskree het.

Hul ontvoerder, Ariel Castro, het skuldig gepleit en is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy het hom op 3 September in die tronk opgehang.

Michelle was 20 toe sy in Augustus 2002 ontvoer is. Dr. Phil bespreek in diepte met haar hoe sy ’n dekade in die haglike toestande oorleef het.

Dr. Phil het aan die Plain Dealer gesê: “Uit respek vir Amanda en Gina het Michelle net uit haar oogpunt oor die ervaring gepraat.”

Michelle was al slagoffer wat teenwoordig was by Ariel se vonnisoplegging en het aan Ariel gesê: “Jy het 11 jaar van my lewe gevat, maar ek het my lewe terug. Ek het 11 jaar in die hel deurgebring, maar jou hel begin nou eers.”

Dr. Phil sê hy het Michelle leer ken as ’n “skerp, wel gesproke en ywerige” jong vrou wat haar eie stem gevind het ná jare se mishandeling.