En wat het deur Cindy Nell-Roberts se gedagtes gegaan nadat sy besluit het om aan Survivor Santa Carolina deel te neem?

“Ek het na ’n sjokoladekoek gekyk en gedink: Wel, ek gaan ’n hele maand lank nie kan koek eet nie . . . ek moet sorg dat ek eet!” Sy lag. “Ek wou seker maak ek is lekker vet.”

Maar toe die voormalige Mej. Suid-Afrika haarself later op die kassie sien, het sy besef ’n heel ander uitdaging wag nou op haar as dié op die eiland.

“Ek het so vet gelyk in my turkoois bikini en met my maag wat uithang en my boude wat dril. Ek is nou op ’n dieet!”

So ken ons nie die glansryke model en Pasella-aanbieder nie – maar dis presies waarom sy ja gesê het vir ’n werklikheidsreeks wat op die beste van tye uitmergelend kan wees, sê Cindy (28).

“Ek wou mense wys hoe ek regtig lyk sonder grimering en versorgde hare. Daar’s altyd druk om volmaak te wees en fantasties te lyk, en ek wou daar uitstap en sê: ‘Dit is wie ek is. Ek is die soort meisie wat by die huis nooit grimering dra nie en in haar man se T-hemde rondloop.’?”

Op die eiland het die tawwe tye sommer al met die intrap begin toe Cindy en nog ses deelnemers in die see gegooi en aangesê is om na hul basiskamp te swem.

Lees meer oor Cindy se Survivor-ervarings in die Huisgenoot van 28 Januarie 2010.