Hy word ook daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter die donkerkop se ontvoering en moord was.

Sinethemba Nenemba (28) en Zolani Sibeko (35) staan saam met Christopher tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Jayde is op 21 April 2015 voor hul meenthuis in Kabegapark ontvoer. Ná ’n soektog van 24 uur is haar lyk in ’n verlate gebied naby Uitenhage gekry. Sy het skietwonde gehad. ’n Vierde beskuldigde, Sizwezakhe Vumazonke, wat glo die huurmoordenaar was, is in September in ’n hospitaal in Port Elizabeth oorlede. Luthando Siyoni, wat glo vir Sizwezakhe gehuur het om die moord te pleeg, is nou ’n staatsgetuie. Luthando het vir Christopher gewerk. Die saak word voor regter Dayalin Chetty aangehoor. Christopher, wat ook van dwarsboming van die gereg aangekla word, het Dinsdagoggend onskuldig gepleit. Sy regsverteenwoordiger, adv. Terry Price, het Dinsdagoggend sy pleitverduideliking in die hof voorgelees. Hy ontken dat hy ’n moordenaar gehuur het.

Volgens Christopher kon die staat nooit ’n motief vir Jayde se moord vind nie. Hy ontken al die staat se bewerings teen hom.
Volgens Christopher was hy en Jayde gelukkig getroud.
Dit het egter aan die lig gekom dat die staat gaan probeer om te bewys dat Christopher al die tyd met Chanelle Coutts getroud was. Chanelle is Christopher se vermeende skelmpie.
Volgens die staatsaanklaer, adv. Marius Stander, het Chanelle en Christopher dikwels oor naweke saam weg gegaan.
Jayde se ouers, Michelle en Derick Inggs, dra saam met hul vriende en familie geel strikkies op hul klere as ’n teken van eenheid. Christopher se ouers, Costa en Fanoula, sit op hul beurt weer saam met hul familie in die voorste ry van die openbare galery.
’n Tydlyn van die paar dae voor Jayde Panayiotou se dood, is ook Dinsdagmiddag in die hooggeregshof deur die staat voorgelê.
Volgens Marius gaan die staat probeer bewys dat Jayde die oggend voor die moord op die sypaadjie voor haar woonkompleks ontvoer is. ’n Opsoringstoestel in die gehuurde motor sal glo aandui dat die motor waarmee Jayde ontvoer is, oor die sypaadjie gery het. Jayde is volgens Marius een keer in die kop en twee keer in rug geskiet. Kort daarna het Sizwezakhe en Luthando mekaar gebel. Luthando was ’n werknemer van Christopher. Luthando is glo kort na bevestiging van Sizwezakhe dat Jayde dood is, na die OK Grocer om sy geld by Christopher te gaan haal.

Christopher en sy mede-beskuldigdes, Sinethemba Nenemba (28) en Zolani Sibeko (35) sal Woensdagoggend weer in die hof verskyn.