Christopher het vir die derde keer om borgtog aansoek gedoen sedert sy inhegtenisname vir sy beweerde betrokkenheid by die reëling van die moord op Jayde in April verlede jaar.

Landdros Abigail Beeton het in Junie 2015 borgtog geweier. Sy prokureurs het hul tot die hooggeregshof in Grahamstad gewend, wat hul aansoek van die hand gewys het. Christopher het in November ’n nuwe borgtogaansoek ingedien, maar dit later teruggetrek omdat sy prokureurs toe nog nie die dossier gehad het nie.

Christopher het Dinsdag in ’n beëdigde verklaring van 67 bladsy as deel van sy getuienis voor die landdros weereens herhaal dat hy onskuldig is.

Sy ouers, familie en personeel van die OK Grocers-winkel in Algoapark het in die voorste ry van die openbare galery gesit. Die werknemers het blou hemde gedra wat hul baas se onskuld verkondig het. Jayde se ouers, haar suster, Toni, en hul vriende het in die middelste ry gesit.

Lees ook: Christopher Panayiotou terug in hof ná nuwe feite glo aan die lig kom

Christopher het gesê beëdigde verklarings van sy minnares, Chanelle Coutts, en haar beste vriendin, Clarissa Kapp, het hom geensins by die moord betrek nie, en dis in teenstelling met die stellings wat die ondersoekbeampte, Kanna Swanepoel, gemaak het.

Hy het die staat se veruideliking van die motief agter die moord op sy vrou bevraagteken en ontken dat hy finansiële probleme gehad het omdat Jayde sy geld uitgegee en hom gedwing het om ’n huis te koop. Hy’s ook daarop gewys dat hulle ’n huweliksvoorwaardekontrak sonder aanwas gehad het en dat Jayde haar eie geldsake bestuur het.

Hy het Kanna se stellings betwis dat sy pa gedreig het om hom te onterf indien hy nie die affair met Chanelle beëindig nie.

Christopher het beweer Luthando het hom by die moord betrek nadat die polisie hom aangerand het. Hy het gesê hy weet nie wat Luthando se motief sou wees om die moord op sy vrou te reël nie, maar dat hy glo hy was betrokke by die verkoop van dwelms.

Hy is sedert sy inhegtenisneming gedwing om een van sy besighede te sluit en twee eiendomme te verkoop.

Hy het weereens ’n borgtogbedrag genoem wat hy as regverdig ag gegewe sy verminderde inkomste nadat hy al vir ’n jaar in aanhouding is. Hy’t aangebied om ’n enkelband te dra en by die polisie aan te meld vir soveel kere as wat deur die hof nodig geag word.

Hy het gesê hy het nêrens om heen te gaan nie omdat al sy bates in Port Elizabeth is.

Die aanklaer, Marius Stander, het aangedui dat hy sal aanvoer dat Christopher geen nuwe bewyse gebring het om ’n nuwe borgtogaansoek te regverdig nie.

Landdros Beeton het die saak tot Donderdag uitgestel.

Luthando Siyoni se van was in vorige hofstukke verkeerd gespel as Siyoli. Dis reggestel in die akte van beskuldiging wat Maandag ingedien is.

Bron: News24

Lees ook op Huisgenoot.com:

.

Meisie smeek om na selfdoodkliniek geneem te word elf jaar ná geheimsinnige goggabyt

Die smeulende Justin Serrao se weergawe van Kinders van die Wind sleur luisteraars mee

Foto van ’n pa wat sy siek seun troos word herhaaldelik van Facebook verwyder

Pieter Koen en Cordelia wil harte verower met dié liedjie

Sinead O’Connor ongedeerd gevind ná polisiesoekto