Christopher Panayiotou word verhoor as die vermeende baasbrein agter die ontvoering van en moord op sy vrou, Jayde, in April 2015. Sy medebeskuldigdes is Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko.

Die afgelope week het hierdie 10 goed in die hof in Port Elizabeth uitgekom: 1. Op Maandag 17 Oktober is ’n foto van Jayde se lyk en ’n nabyskoot van haar gesig op die skerm in die hof vertoon. Haar ontstelde ma, Michelle Inggs, het die hof in trane verlaat. 2. Clarishka Kapp het getuig oor die beweerde buite-egtelike verhouding tussen Christopher en Chanelle Coutts. Sy het begin huil toe sy herhaaldelik gevra is oor duur geskenke wat ook sy van Christopher ontvang het. Daar is ook melding gemaak van eksplisiete foto’s wat tussen haar en die twee vermeende minnaars aan mekaar gestuur is.

3. Jayde “was baie, baie lief” vir Christopher, het haar kollega en vriendin Cherise Swanepoel Dinsdag in die hof getuig.
4. Inligting komende van selfoonrekords het opspraak gewek. Daarvolgens het Christopher en Estelle Burger, sy sakebestuurder by die bank, op die dag van Jayde se verdwyning 14 keer telefoniese kontak met mekaar gehad.

5. Die hof is ingelig die foto wat destyds aan die polisie besorg is van ’n man wat vermoedelik met Jayde se OTM-kaart probeer geld trek het, was eintlik dié van ’n onskuldige man. Die foto is wel van ’n OTM se beeldmateriaal bekom, maar nie die een waar Jayde se bankkaart gebruik is nie.
6. Ntsikelelo Gqirana, ’n verlangse familielid van Sizwezakhe Vumazonke (die medebeskuldigde wat intussen oorlede is), het getuig Sizwezakhe het ’n soort tabletfoon aan hom oorhandig met die versoek dat sy meisie dit nie mag sien nie. Hy het oorweeg om die foon vir Sizwezakhe se suster te gee, maar van plan verander omdat dit “baie delikate en sensitiewe inligting” bevat het.

7. Mawonga Ndedwa, ’n gewese werknemer van die Panayioutous se OK Grocer in Algoapark, was aanvanklik ’n beskuldigde in die saak, maar hy het intussen ’n staatsgetuie geword. Hy het getuig oor ’n  sak met “baie geld” wat hy in ’n pakkamer gevind het. Daar was na bewering R30 000 in die sak. Christopher het glo geweet daarvan en die sak verwyder.

8. Mawonga het ook getuig Christopher het gereeld sy selfoon in ruil vir lugtyd gebruik. Dié ooreenkoms het twee weke voor Jayde se verdwying begin. Mawonga het gesê Christopher het die selfoon se SIM-kaart vernietig en hom R1 000 betaal om van die foon ontslae te raak.

9. Mawonga het glo Fanoula Panayiouto, Christopher se ma, van die selfoonsituasie vertel en gesê hy gaan die foon na die polisie neem. “Sy was geskok. Sy het my aangestaar en water gedrink,” het hy getuig. 10. Die hof is op Vrydag 21 Oktober 2016 tydelik ontruim sodat Mawonga kon luister na die opname van ’n telefoniese gesprek tussen hom en Fanoula.

In die gesprek het Mawonga aan Fanoula gesê hy sal die foon terugbring. Op adv. Terry Price, vir Christopher, se vraag of hy ’n beloning daarvoor ontvang het, het Mawonga ontkennend geantwoord. KLIK HIER vir die volledige transkripsie.

Die hof is verdaag tot Maandag.