“Christoff Becker is soos per opdrag van die hof op parool vrygelaat,” het die woordvoerder Logan Maistry gesê.

Christoff se prokureur het vroeër vandeesmaand ’n dringende paroolaansoek in die hooggeregshof gebring, wat die hof toegestaan het.

Die Waterkloof-vier – Christoff, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt – het op 1 Desember 2001 in Moreletapark, Pretoria, ’n hawelose man doodgeskop, -gesteek en -geslaan. Die slagoffer is nooit geïdentifiseer nie.

Hulle is in Junie 2005 skuldig bevind aan moord. In Mei 2008 is hul appèlaansoek in die hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys.

Hulle is op 11 Februarie vanjaar op parool vrygelaat nadat hulle vyf jaar van hul 12 jaar lange vonnis uitgedien het.

Christoff and Frikkie se parool is teruggetrek toe ’n video bekendgemaak word van hulle wat in die Kgosi Mampuru-gevangenis blykbaar alkohol drink en ’n selfoon gebruik.

Die twee is op 28 Februarie weer tronk toe gestuur.