‘n Mens verwag eintlik hy gaan vir jou “antie” sê wanneer jy Errol van 7de Laan in lewende lywe ontmoet.

En dan wil jy sommer vir die vrolike tiener ’n sjokolade-melkskommel koop.

Maar die 27-jarige Christo Davids is veel ouer en wyser as die 18-jarige matriekleerder wat hy in die sepie speel – dit kom jy gou agter.Want anders as die jong Errol, wat altyd in die pekel is, is Christo ’n geleerde en gerekende jong man wat al van kleins af presteer.

As jy hom in ’n ander gedaante as dié van die ondeunde Errol wil sien, gaan net teater toe.

Christo is nie net ’n TV-akteur nie; hy is ook gereeld op die verhoog, waar hy ernstige en uitdagende rolle meesterlik vertolk.

So goed, om die waarheid te sê, dat hy nou al twee gesogte pryse gewen het.

Die jongste was vir sy rol in die verhoogstuk My Naam Is Ellen Pakkies, waarvoor hy ’n Kanna vir beste akteur by die KKNK gekry het.

Hy speel Adam, ’n jong tikverslaafde, en net soos in 7de Laan, speel Vinette Ebrahim sy ma.

Die stuk is so aangrypend dat byna niemand in die gehoor met droë oë uitstap nie, vertel teaterbestuurders.

Lees meer in die Huisgenoot van 23 Junie. 

Volg Huisgenoot op Twitter.