Die aktrise Christina Storm-Nel (42) en haar man, Paul (45), is op die punt om nog ’n toevoeging tot hul gesin te verwelkom. Hul seuntjie maak na verwagting volgende week sy verskyning. Die stralende Christina, wat vir die derde keer ma word, het Instagram verlede week ingespan om haar opgewondenheid oor die koms van die baba uit te druk.

14 more sleeps and this will be me again!!! Happy dayz!!! ????

A photo posted by Christina Storm Nel (@christinastormnel) on
“Nog net 14 slapies en dit sal weer ek wees!!! Blye dae!!!” lui die plasing. Die ma het reeds ’n 12-jarige dogter, Ruby, by haar eks, die voormalige Springbok-rugbyspeler, James Small, terwyl Paul ’n dogter, Erin (12) uit ’n vorige verhouding het. Paul en Christina het ’n dogter, Eve (uitgespreek Evie) en nou voeg hulle nog ’n Nel by die gesin.

En dis ’n seuntjie, wat vir Paul ’n blaaskans gee van al die vroue. Hy meen hy is ’n uitdaging vir die estrogeenbelaaide gesin.

“ ’n Seun, regtig? ’n Seun? Ons het ’n dogter verwag. Ons was so in vervoering toe ons die nuus kry en uitvind dis ’n seun. Dit is gans ander elemente,” het ’n stralende Christina in September tydens ’n onderhoud met Huisgenoot vertel.

Swangerskap het haar egter nie verhoed om hard te werk nie. Sy is die ster van ISO se jongste musiekvideo vir hul enkelsnit State of Blue, waarin sy die rol van ’n swanger vrou vertolk. Die video toon Christina in verskriklike pyn terwyl sy die lewe skenk aan, wel, iets wat nie menslik blyk te wees nie.

Kyk hier na die video: