Huisgenoot was gisteraand genooi na die bekendstelling van Chris Chameleon se nuwe CD, “As jy weer skryf”.

Tydens die spoggeleentheid wat in die Cape Diamond-hotel in die Kaapse middestad gehou is, het Chris die verhoog gedeel met verskeie digters wat hulle eie werke asook die van Ingrid Jonker voorgelees het.

Chris se nuutste CD is weereens ‘n musikale verwerking van die Afrikaanse digter Ingrid Jonker se werke. Dié album kom na die sukses van Chris se eerste Afrikaanstalige album, “Ek herhaal jou”.

Volgens Chris bou die nuwe album gemaklik voort op die kreatiewe energie wat Jonker se digkuns in hom aanwakker.

Chris se kenmerkende, hoogs-oorspronklike aanslag in sy verwerkings van geliefde Jonker-gedigte soos "Kabouterliefde", "Tokkelos" en "Ek het gedink" is veral die luister werd.

As jy hou van Ingrid Jonker of dalk ‘n Chris-aanhanger is of selfs net hou van goeie kwaliteit Afrikaanse musiek, moet jy beslis die CD vir jou aanskaf.