Dié aankondiging is op Jimmy Kimmel se TV-program en op die tydskrif se voorblad gedoen.

Chris het uit Australië op die program verskyn met sy gesig en stem vermom en het speelse vrae beantwoord.

Jimmy het die volgende aan die gehoor gesê: “As julle reg raai, sal die wêreld se sexyste man met julle liefde maak; dis groot. Ek gee julle drie leidrade: hy is sexy, hy is ’n man en hy lewe.”

Is hy in ’n musiekgroep? Nee. Is hy bo 35? Weer verkeerd.

“Is jy harig?” het ’n bebaarde, bleswordende man in die gehoor gevra.

“Net hier bo,” het die steeds onbekende man geantwoord en na sy kop beduie. Die gehoor het toe vasgestel die persoon is nie van Amerika nie en is ’n gespierde akteur wat ’n superheld met ’n hamer in flieks gespeel het. Hulle het toe reg geraai. Chris se prys is ’n gesigspieëltjie.

'Ek het alles van sexy wees by Matt geleer.'

“Wil jy enigiets sê vir die mans wat verloor het, veral Matt Damon?” het Jimmy gevra.

“Ek het alles van sexy wees by Matt geleer: van die lippe reg tuit tot die oë op die regte tyd skrefies trek. Dankie, Matt, en al die vorige, intelligente mans. Dis op ’n IK-toets gegrond, nie net voorkoms nie,” het Chris gesê.

Toe Jimmy vra of hy enigeen wil bedank, het Chris gesê: “Seker my ouers; dis danksy hulle dat ek so lyk.”

In die artikel in People het Chris gesê hy het gedink dis “nogal snaaks” toe hy van sy nuwe titel hoor. Hy is met die Spaanse aktrise Elsa Pataky getroud en hulle het drie kinders.

“Ek dink ek kan nou ’n paar weke in die huis hieroor spog,” het hy aan die tydskrif gesê.

“Ek kan net vir haar sê, ek hoef nie meer die skottelgoed te was of doeke om te ruil nie; dis benede my. Ek is nou ’n groot ster.”