Chris Brown is in hegtenis geneem nadat hy glo ’n man aangerand het.

Die 24-jarige sanger, wat nog op ’n proeftydperk is nadat hy in 2009 sy eksmeisie Rihanna aangerand het, is in hegtenis geneem en aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat ’n man hom daarvan beskuldig het dat hy hom in die vroeë oggendure Sondag buite die W Hotel in Washington in die gesig geslaan het.

Die vermeende slagoffer, wat dalk ’n operasie moet ondergaan nadat sy neus gebreek is, het aan die webtuiste TMZ.com gesê Chris “het kop verloor” toe hy en ’n manlike vriend na hom toe gehaas het om op ’n foto te wees wat die R&B-ster saam met twee vroue geneem het. Volgens ’n wetstoepassingsbeampte het Chris gesê: “Ek hou nie van die gays nie, ek hou van boks,” voor hy klaer bygedam het.

Die man, wat later gesê het hy verstaan nie hoekom Chris “so homofobies” sou optree nie, beplan om die aanklag verder te voer, maar het gesê hy sou op die toneel ’n verskoning van die sanger aanvaar het.

Chris en sy lyfwag, Christopher Hollosy, is tot Maandagoggend by ’n plaaslike polisiekantoor aangehou. “Aangesien dit op ’n Sondag gebeur het, is die kanse skraal dat daar ’n borgtogaansoek sal wees,” het Anthony Clay, woordvoerder van die Washingtonse metropolisie-afdeling, ten tyde van die voorval gesê.

Chris, wat in die stad was om gasheer te wees by ’n partytjie by die nabygeleë nagklub The Park at Fourteenth, was nie onder die invloed van enige middels of alkohol ten tyde van sy inhegtenisneming nie. Die inhegtenisneming kan beskou word as ’n oortreding van sy proeftydperkvoorwaardes en hy kan tot vier jaar tronkstraf opgelê word.