womansavesdogs4

Yang Xiaoyun (65) het al byna 2 500 km ver gereis om soveel diere as wat sy kon, te red.

Wreedheid teenoor diere kry nuwe betekenis tydens die Yulin-fees waar hartverskeurende tonele jaarliks afspeel. Daar word na raming 10 000 honde en katte in China geslag tydens die fees, wat die sonstilstand gedenk. Die fees word gekenmerk deur verskriklike tonele van wreedheid teenoor diere. Betogers beweer slaghuiswerkers en smouse martel honde deur hulle met hamers te slaan, hulle aan hul nek op te hang en selfs met blaasvlamme te brand terwyl hulle nog lewe.

Elke jaar red sy diere deur hulle by smouse te koop en na haar diereskuiling te neem.

Dit het tot ’n reuse internasionale protes gelei, met die Britse sangeres Leona Lewis en die Britse komediant Ricky Gervais aan die stuur daarvan. Hulle het betoog dat die fees verbied word.

Yang, ’n welgestelde, afgetrede vrou van Tianyn, is die eienares van ’n diereskuiling, Common Home for All. Sy beweer sy ontferm haar al sedert 1995, toe sy ’n katjie uit ’n rivier gered het, oor diere. Ná haar aftrede as onderwyseres, het sy haar huise verkoop om haar reddingspogings te finansier.

Elke jaar tydens die Yulin-fees red sy diere deur hulle by smouse te koop en na haar diereskuiling te neem.

“Almal weet al wie ek is (in Yulin) en hulle stoot die pryse op omdat hulle weet ek sal die honde koop. Ek het nogal ’n bietjie bedreig gevoel daar.”

womansavesdogs3

Haar liefdadigheidswerk het teen ’n hoë prys gekom. Haar enigste seun was eers glad nie beïndruk dat sy ma die gesin se twee huise verkoop het ná die dood van haar man in 1995 nie. Hy was woedend en het haar daarvan beskuldig dat sy sy erfenis in die water smyt.

“My seun steun my nou oplaas,” sê Yang. “Hy het toegegee toe hy sien hoe toegewyd ek is en my skoondogter help my selfs om die hondehokke skoon te maak.”

Haar bure kla egter oor die stank en die honde wat heelnag blaf, maar Yang byt vas. “Ek kan nie sonder honde lewe nie. Wanneer die bure sê die honde se blaf hou hulle uit die slaap, dink ek daaraan dat ek nie kan slaap as ek nie die blaf hoor nie. Ek is selfs trots daarop dat ek stink, want ek het so baie lewens gered.”

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, INDEPENDENT.CO.UK