'n Vietnamese soek- en reddingsvliegtuig wat help met die soektog na Vlug MH370.

’n Chinese vliegtuig se bemanning het ’n wit, vierkantige voorwerp gesien in ’n gebied wat moontlik wrakstukke van die vermiste Malaysia Airlines-vliegtuig bevat, het Chinese media Maandag berig. Intussen maak Amerikaanse owerhede reg om ’n toestel na die gebied te vervoer wat vlugopnemers kan opspoor.

Die Xinhua-nuusagentskap berig die bemanning aan boord van ’n IL-76-vliegtuig het Maandag die voorwerp in die suide van die Indiese Oseaan opgemerk en die koördinate gestuur na die Australiese opdragsentrum, wat die multinasionale soektog koördineer, en die Chinese ysbreker Snow Dragon, wat onderweg is na die gebied.

Geen ander besonderhede is nog verstrek nie. Satellietbeelde van Australië en China het vroeër moontlike wrakstukke geïdentifiseer wat dalk met die vermiste vliegtuig verband hou.

Kdr. Chris Budde het in ’n verklaring gesê die U.S. Pacific Command stuur ’n standtoestel vir ’n vlugopnemer ingeval ’n puinveld opgespoor word. Die Towed Pinger Locator, wat teen ’n lae spoed agter ’n vaartuig getrek word, het uiters sensitiewe luistervermoë. Dit beteken as die vliegtuigwrak gevind word, kan dit die vlugopnemer se sein tot ’n diepte van 6 100 m opspoor.

“Dit is slegs ’n poging om toerusting en opgeleide personeel nader aan die soekgebied te plaas sodat ons so gou moontlik kan reageer omdat die vlugopnemer se battery ’n beperkte leeftyd het,” het Chris gesê.

Daar was geen teken dat die skuif ’n aanduiding was dat daar ’n deurbraak in die soektog was nie; dit is eerder voorbereidend.

Die Chinese vliegtuig is een van twee Ilyushins wat Maandag by die soektog aangesluit het, wat die getal vliegtuie vermeerder tot 10.

Die Australiese maritieme-veiligheidsowerheid se reddingskoördinasiesentrum het gesê die weer in die betrokke gebied, sowat 2 500 km suidwes van Perth, gaan moontlik versleg.

Die Australiese minister van vervoer, Warren Truss, het gesê “niks van belang” is Sondag gevind nie; hy het dit as ’n “vrugtelose dag” beskryf.

“Dit gaan ’n uitdaging wees, maar ons gaan vasbyt,” het hy in ’n radio-onderhoud gesê voor die eerste vliegtuig teen dagbreek van Perth vertrek het. “Ek dink ons klou aan elke brokkie inligting wat ons kry en probeer ’n gebied vind waarop ons ons pogings kan toespits.”

’n Sikloon wat op Australië se noordwestelike kus toesak, “kan ongunstige weer bring”, het Chris gesê.

Die verdwyning van die vliegtuig, wat op 8 Maart van Kuala Lumpur onderweg was na Beijing, het gelei tot ’n uitgebreide soektog. Tog is daar nog geen wrakstukke of ander bewyse gevind van wat met die vliegtuig gebeur het nie.

Franse satellietdata het Sondag aan die lig gekom nadat Australiese owerhede vliegtuie en ’n skip gestuur het om ’n houtlaaiplank op te spoor wat lyk asof dit omring is met platrieme van verskillende lengtes en kleure.

Dié data kom nadat Australiese en Chinese satelliete vroeër ook verdagte voorwerpe opgespoor het.

Die laaiplank is Saterdag opgemerk, maar die soekers kon nie foto’s daarvan neem nie.

Houtlaaiplanke word algemeen deur skepe gebruik, maar word ook in vliegtuie se laairuim gebruik. ’n Beampte van Malaysia Airlines het Sondag bevestig dat die vliegtuig wel sulke laaiplanke aan boord gehad het. Die beampte het op voorwaarde van anonimiteit gepraat in ooreenstemming met maatskappybeleid.

Die woordvoerder vir die Franse ministerie van buitelandse sake, Romain Nadal, het in Parys in ’n onderhoud met The Associated Press gesê die satelliet se radar-eggo “sekere wrakstukke geïdentifiseer het wat dalk met die vliegtuig verband hou”.

Volgens Romain is hierdie eggo’s nie “beelde met definisie soos ’n foto nie, maar dit stel ons wel in staat om die aard van ’n voorwerp te identifiseer en vind”.

Om data van ’n satelliet se eggo bymekaar te maak behels dat ’n straal energie aarde toe gestuur word. Dit word dan geanaliseer wanneer dit terugbons, sê Joseph Bermudez jr., die hoof analitiese beampte by AllSource Analysis, ’n kommersiële satellietintelligensiefirma.

Satelliete se radar-eggo’s kan in ’n beeld omskep word wat soortgelyk aan ’n swart-wit-foto is, maar wat nie so duidelik soos ’n foto is nie, het Joseph gesê. “Jy sal moet weet waarna jy kyk,” het hy gesê.

’n Maleisiese beampte betrokke by die soektog het gesê die Franse data het voorwerpe sowat 930 km noord opgespoor van die voorwerpe wat deur Australië en China ontdek is.

Volgens die beampte is een van die voorwerpe wat opgemerk is blykbaar dieselfde grootte as ’n voorwerp wat Dinsdag deur ’n Chinese satelliet opgemerk is: 22 x 13 m. Die beampte wil anoniem bly omdat hy nie toestemming het om met die media te praat nie.

Die Amerikaanse wraksoeker David Mearns het Maandag gesê die ontdekking van moontlike wrakstukke is ’n “positiewe verwikkeling”, al het hy nie al die besonderhede gehad nie.

David was ’n raadgewer vir Britse en Franse owerhede tydens die soektog na die Air France-vliegtuig wat in 2009 vermis geraak het tydens ’n vlug van Brasilië na Parys.

Hy het gewaarsku dat die tyd min raak om bevestigde wrakstukke op te spoor wat tot die vlugopnemer kan lei.

Die suide van die Indiese Oseaan is moontlik die gebied waar die vliegtuig gevind kan word; Maleisiese owerhede het gesê seine wat deur die Boeing gestuur is ure nadat dit verdwyn het, het getoon dat dit in een van twee gebiede is: ’n breë noordelike gang wat strek van Maleisië na Sentraal-Asië of ’n suidelike gang wat na Antarktika strek.

Maleisiese owerhede het nog geen verduidelikings vir die vliegtuig se verdwyning uitgesluit nie, maar het gesê die bewyse wat tot dusver gevind is, wil voorstel dat sy kommunikasiestelsel ontkoppel is en dat dit omgedraai het en oor Maleisië gevlieg het na die Malacca-seestraat. Hulle is onseker oor wat volgende gebeur het.

Owerhede oorweeg die moontlikheid van kaping, sabotasie, ’n terreuraanval of ’n voorval rakende die geestesgesondheid van die vlieëniers of een van die passasiers.

Tony Blinken, pres. Obama se adjunk nasionale sekuriteitsadviseur, het aan CNN gesê: “Daar is nie een heersende teorie nie.”

“Privaat of openbaar, ons weet nie,” het hy gesê. “Ons ondersoek elke teorie.”

- Sapa