’n Jong Chinese paartjie word deur kriminele klagtes in die gesig gestaar ná hulle hul dogter “verkoop” het en ’n deel van die opbrengs gebruik het om ’n Apple iPhone te koop, het die regeringsmedia verlede week gesê.

Staatsaanklaers in Shanghai het ’n saak van mensehandel teen die paartjie gemaak ná hulle onwettig hul derde kind laat aanneem het deur haar aanlyn te adverteer en hulle geld vir die baba aanvaar het, berig Liberation Daily.

Speurders het bevind die ma, wie se volle naam nie gegee is nie,  het die geld gebruik om ’n iPhone, duur sportskoene en ander produkte aanlyn te koop.

Apple-produkte is baie gewil in China, waar ’n tiener verlede jaar sy nier verkoop het en die geld gebruik het om ’n iPhone en iPad te koop.

Die paartjie het egter aan die polisie gesê hulle wil hê die dogtertjie moet ’n beter opvoeding hê as wat hulle kon bekostig, aangesien hul reeds twee kinders het.

“Deur die kind weg te gee wou ons haar beter sekerheid bied, nie om voordeel daaruit te trek nie,” het een van die ouers gesê.

Polisie in Shanghai kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Berigte in die Shanghaise media het nie aangedui hoeveel die paartjie ontvang het nie, maar hul aanlynplasings het verwys na 30 000 yuan en 50 000 yuan (R48 000 en R80 500).

Apple het verlede maand die iPhone 5s, insluitend een goudkleurige model, en die meer begrotingsvriendelike iPhone 5c in China bekendgestel. - SAPA