’n Soektog deur AFP Donderdag op die Chinese soekenjin Baidu van die woorde “Beijing” en “siekbriefie-diens” het 49 500 resultate gelewer. Verkopers bied fotokopieë in hul “produkkatalogus aan van hospitaalsertifikate met amptelike stempels en dokters se handtekening”.

Maar die land se grootse aanlyn verbruiker-tot-verbruikerplatform, Taobao, het soektogte vir die woorde “Wêreldbeker” en “siekbriefies” verbied nadat ’n groot aantal siektebriewe onlangs te koop aangebied is, berig die Beijing Youth Daily.

Nietemin het verkopers van dié briefies hul vervalsings aanhou verkoop op Sina Weibo (China se weergawe van Twitter) en ander sosialemediawebtuistes.

“Die Wêreldbekersokkertoernooi is op pad en die groot tydsverskil gaan baie Chinese sokkerliefhebbers raak. Hiermee stel ek die diens bekend waar mense siekbriewe kan koop om dié probleem op te los,” het ’n gebruiker, Guitarist playing a Ukelele, op 30 Mei geskryf.

Die voornemende krankes kan kies uit uiteenlopende siektes, van koors en beenbreuke tot aborsie en ernstige akute respiratoriese steuring, die aansteeklike siekte wat in 2003 in China honderde lewens geëis het.

Siekbriewe word teen sowat R35 stuks verkoop op ’n sosiale netwerk wat gewild is onder studente en gegradueerdes, berig die Beijing Youth Daily.

Luidens dié berig het ’n verkoper gesê sy verkwansel sowat 30 briewe per dag en het dit gestaaf met foto’s van ’n stapel afleweringsbewyse.

Bron: Sapa/AFP