Die “vreesaanjaende” glasbrug in China het, skaars ’n maand nadat dit geopen is, reg onder ’n toeris se voete gekraak.

Die kraak op die hangbrug, ook bekend as die “Waaghalsbrug”, is na bewering veroorsaak deur ’n toeris wat ’n termosfles laat val het.

“Ek het ’n slag aan die onderkant gehoor ... en almal het geskreeu,” het een van die toeriste onthou.

“Ek het geskree ‘Dit het regtig gekraak! Dit het regtig gekraak!”

Die brug, wat deel is van die Nasionale Geologiese Park in Shiniuzhai, hang ongeveer 1 100 m bo seevlak.

Die glas is blykbaar 25 keer sterker as gewone glas en “sal solied bly selfs al spring toeriste daarop”.

Die bestuur van die park het ná die voorval ’n verklaring uitgereik.

“Dit het geen uitwerking op veiligheid nie,” het hulle aan die New York Times gesê.

Bronne: time.com, dailystar.co.uk, marketwatch.com