Die sistiese fibrose-lyer Valentina Maureira het ’n YouTube-video geplaas wat lyk of dit in ’n hospiraalbed geskiet is en waarin sy pres. Michelle Bachelet vra om haar ’n genadedood te laat sterf. Dit het vinnig op die sosialemedia versprei.

“Ek vra dringend om met die president te praat, want ek is moeg van leef met die siekte,” sê die tiener, wie se ouer broer op ses jaar aan dieselfde siekte dood is. “Ek wil haar goedkeuring hê sodat ek ’n inspuiting kan kry wat my vir altyd sal laat slaap.”

Die presidensiële woordvoerder Alvaro Elizalde het Donderdag gesê al “is dit onmoontlik om nie deur emosie oorkom te word oor die meisie se versoek nie, is dit onmoontlik om haar wens toe te staan,” want dit word nie onder Chile se wetgewing toegelaat nie.

Valentina het aan ’n asemhalingsiekte en “beduidende kaloriese wanvoeding” gely toe sy op 30 Januarie by die Katolieke universiteitshospitaal opgeneem is, sê Andres Castillo, die dokter in beheer van haar behandeling.

Valentina se pa het gesê sy sal aanhou om Michelle te probeer ontmoet sodat die president, wat ook ’n pediater is, “na haar lewensverhaal kan luister.”

“Dit is baie moeilik, maar ek moet haar besluit respekteer, want sy is die een wat aan die siekte ly,” het Fredy Maureira aan The Associated Press gesê.

“Ek het reeds ’n sesjarige seun verloor omdat ek het nie genoeg geld en organe gehad nie. Nou wil my dogter net op ’n waardige manier sterf,” het hy bygevoeg.

Fredy het gesê nadat hy die eerste keer van sy dogter se sterwenswens gehoor het, het hy “deur die nag gehuil”.

Die aftakelende siekte tas Valentina se lewer, pankreas en longe aan en sy sê sy is gefrustreerd oor die gebrek aan keuses en hoe baie dit die gehalte van haar lewe beïnvloed.

“Sy is uigeput; ons is almal uitgeput. Maar as sy wil aanhou baklei, sal ek elke oomblik aan haar sy wees,” het die pa gesê. My boodskap aan al die ouers in die wêreld wat gesonde kinders het, is: Pas hulle asseblief op. Wees lief vir hulle.”

SAPA