Die hond in die pot kry, is ’n gesegde vir as jy laat is vir ete. Gelukkig was dit nie die lot van die dapper goue rapporteerhond, Chi Chi, nie.

Sy was in Seoul, Suid-Korea, bestem vir die kostafel. Maar Chi Chi is meer as twee maande gelede gered uit ’n vullissak en het nou ’n liefdevolle familie in Phoenix, Arizona wat haar oppas en bederf.

Lees ook: Hartverskeurende einde vir plaaslike snuffelhond

“Sy kan hardloop, sy kan hardloop,” het Megan Howell, die twaalfjarige dogter van die familie gejubel.

“Sy kan eintlik enigiets doen wat ’n ander hond kan doen, behalwe om by die trappe op te hardloop,” het Megan bygevoeg.

Al vier van die tweejarige Chi Chi, wat “liefdevol” beteken, se pote moes geamputeer word weens die erge mishandeling wat sy in die hondevleismark moes deurmaak. Sy moes van nuuts af leer loop op kunspote.

Chi Chi is gebore in ’n Suid-Koreaanse vleismark. Die slagters het glo haar pote aanmekaar vasgebind en haar onderstebo van die dak af gehang. Sy is elke dag gemartel omdat hulle “haar vleis wou sagmaak”, lui ’n verklaring van die plaaslike dierebeskermingsgroep, Animal Rescue, Media and Education (ARME), wat ingetree het toe iemand op Chi Chi binne-in ’n plastieksak in ’n stortbak afgekom het.

Toe haar “eienaars” sien dat infeksie haar pote laat verrot het weens die toue waaraan sy opgehang was, het hulle besluit om haar weg te gooi omdat haar “vleis nie meer eetbaar is nie”.

Toe die ARME-groep haar vind, het die senings en bene van haar pote uitgesteek.

“Ons was nie eens seker of sy sou oorleef nie,” vertel Shannon Keith, president van (ARME). Die infeksie het reeds na die res van die hond se lyf begin versprei en die veeartse in Seoul het besluit om haar pote af te sit en met prostese te vervang.

Haar storie het in Februarie oor die internet versprei, nadat ARME dit op TouTube en Facebook geplaas het.

Dis waar die Howells dit gesien het.

“Ons het besef haar grootste behoefte was om ’n plek te kry waar sy kan woon en bederf word,” verduidelik Richard Howell sy en sy vrou, Elizabeth, hulle besluit. ’n Span gaan Chi Chi help met rehabilitasie.

“Dalk kan sy mense soos soldate en kinders bemoedig wat ook amputasies moet kry,” hoop Richard.

“Ons wil haar storie gebruik om die lewe van mense beter te maak.”

BRONNE: news.com.au, huffingtonpost.coom, cbsnews.com

- Saamgestel deur Pieter van Zyl

Ander stories op Huisgenoot.com

Graad 11’s! Hier’s waarom julle vanjaar net so ernstig soos jul matriekjaar moet opneem

Van Mej. Reëndruppel na Mej. SA: Ons gesels met Ntandoyenkosi Kunene, haar ouers

Kyk: Dale Steyn deel stout selfie!