Cheryl Cole het die pyn van ’n 55 uur lange tatoeëersessie probeer wegsing.

Die Fight For This Love-sangeres het haar gunstelingliedjies uit volle bors gesing om die pyn te verduur toe twee groot rooi rose op haar boude getatoeëer is. Sy het hulle laat aanbring om by die twee bestaande rose op haar laerug te pas.

’n Bron het aan Yahoo! omg! gesê: “Cheryl het dwarsdeur die tatoeëersessies luidkeels gesing om die pyn te verdoof. Voor elke sessie het sy goed geslaap en alkohol vermy sodat die pyn minder kan wees, maar sy het ook kliphard gesing om die pyn draagliker te maak. Sy het uit volle bors gesing. As iemand dit opgeneem het, sou hulle ’n fortuin daaruit kon maak!”

Daar word beweer dat die ster meer as R220 000 vir die ingewikkelde inkpatroon betaal het, wat ná talle besoeke aan die Black Anchor Collective-tatoeëersalon in Kalifornië eers klaar was. Cheryl het glo in dié tyd ’n noue band gevorm met die tatoeëerkunstenaar, Nikko.

Die bron het bygevoeg: “Nikko is ’n fortuin aangebied om dinge oor Cheryl te verklap omdat hy so baie van haar weet. Daar is egter nie ’n kans dat hy dit sal doen nie, want hy is die diskreetste ou in die tatoeërwêreld. Cheryl het met hom gepraat oor die dinge wat haar die meeste pla, sy vertrou hom.”

Cheryl se tatoe het kritiek uitgelok toe sy verlede maand die besonderse lyfkuns in ’n foto op Instagram gewys het.