Cher sê sy het op 11 van die huis af weggeloop.

Die 66-jarige sangeres het onlangs vertel sy was kleintyd “baie hardkoppig” en dit het dikwels probleme veroorsaak tussen haar en haar ma, Georgia Holt. Sy bring in ’n nuwe dokumentêr, Dear Mom, Love Cher, hulde aan haar.

“Ons was altyd geheg aan mekaar, maar het baie baklei toe ek jonk was. Ek was baie hardkoppig,” het Cher aan die tydskrif People vertel. “Ek het ’n paar keer aangejaag, soos toe ek op 11 weggeloop het. Ek het saam met my vriende op ’n trein gespring. Ek was avontuurlustig, maar nooit minagtend nie. Sy sou dit nie verdra het nie.”

Cher vertel ook haar ma was aanvanklik gekant teen haar verhouding met wyle Sonny Bono, die pa van haar kind Chaz Bono. “Ons het vasgesit oor Sonny, maar dit gou oorkom. Sy het eers geluister voor sy geoordeel het en ek kon altyd met haar praat oor my romanses. Sy het altyd gesê hoe belangrik dit is dat jy seker is jy is lief vir die een saam met wie jy is.”